Riool
|

GOP: Newcastle se strate en rioolnetwerke kort dringend aandag, sê AfriForum

Die AfriForum-tak in Newcastle versoek die Newcastle Plaaslike Munisipaliteit om dié dorp en die omliggende omgewing se strate en onstabiele rioolnetwerke ’n prioriteit in die nuwe finansiële jaar 2025/2026 te maak. Die toestand van sommige strate in verskeie buurte, die sentrale sakekern, die industriële gebied en Lennoxton, is ’n teer saak, wat dringende aandag moet geniet. Die takke het op 8 April hierdie skriftelike voorstelle met betrekking tot dienslewering op die munisipaliteit se jaarlikse Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) ingedien.

Ander takke in KwaZulu-Natal het al in die verlede sukses behaal met van hul voorstelle wat in die munisipaliteit se GOP opgeneem en afgehandel is, waaronder een van Vryheid se swak paaie wat herbou is. “Dit is dus belangrik dat takke aan die GOP-proses deelneem om voorstelle in te dien wat sal bydra tot ontwikkeling in hul gemeenskappe,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.

Dienslewering

Die gemeenskappe in die Newcastle-omgewing ervaar al vir die afgelope paar jaar gereeld dat mangate oorvloei en die riool gevolglik die riviere om Newcastle besoedel. Sommige van hierdie mangate is reg voor kitskosrestaurante geleë en hou dus ’n gesondheidsrisiko in. Die rioolbesoedeling is as gevolg van swak instandhouding en behuisingsuitbreidings sonder die opgradering van die huidige rioolinfrastruktuur.

Verder is heelwat strate vol slaggate omdat dit jare laas onderhou is

Dit is kommerwekkend dat 37% – wat neerkom op ’n waarde van R58,9 miljoen – van die Newcastle-munisipaliteit se gesuiwerde water volgens die ouditeur-generaal (OG) se verslag verlore gaan. “Hierdie verlies kan net aan onwettige koppelings, hoofsaaklik lekkende waterinfrastruktuur, toegeskryf word,” sê SW Scott, AfriForum se voorsitter vir die Newcastle-tak.

Besteding

Volgens die OG se verslag was die totale inkomste vir die Newcastle-munisipaliteit R2,28 miljard in die 2022/2023 finansiële jaar, waarvan R1,69 miljard deur die munisipaliteit gegenereer was. Die Nasionale Tesourie se webtuiste dui aan dat die eiendomsbelastinginkomste vir 2023 vir die munisipaliteit R376 miljoen was. Hierdie fondse kom van eiendomseienaars en is vir tipiese nie-faktureerbare dienste soos om slaggate en straatligte te herstel, en sypaadjies en parke in stand te hou.

Die OG-verslag wys dat die munisipaliteit tydens die 2022/2023 finansiële jaar R534,7 miljoen se onreëlmatige uitgawes aangegaan het. Dit is kommerwekkend en AfriForum dring aan dat dit dringende aandag moet geniet.

Luidens die verslag van die OG word daar niekompeterende en onregverdige aankope gedoen. Verskeie tenders en kontrakte word aan staatsamptenare, raadslede, werknemers en familielede gegee. Die Newcastle-munisipaliteit het slegs 1,2% van die begroting aan onderhoud gespandeer, terwyl die Nasionale Tesourie 8% aanbeveel. AfriForum is bekommerd dat die lae spandering aan onderhoud aan masjinerie en ander toerusting tot die huidige swak dienslewering bydra.

Besoek www.wordlid.co.za om deel te word van jou naaste AfriForum-tak en sodoende ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak.

Soortgelyke plasings