Geliefde Semi-Soet binnekort op die planke as splinternuwe musiekblyspel
Dertien jaar sedert die romantiese komedie Semi-Soet in 2012 in rolprentteaters begin draai het, kan teaterliefhebbers nou gereed maak vir die Afrikaanse teatergeleentheid van die jaar wanneer Semi-Soet – die musiekblyspel in Mei op die planke kom in die AfriForum Teater.
Dié storie oor ’n selferkende werksverslaafde wat die advertensiemaatskappy waarvoor sy werk van ondergang wil red met ’n wilde, halsoorkop plan, trek vir die teaterproduksie ’n nuwe én musikale baadjie aan. Anel Alexander vertolk, soos in die gelyknamige lokettreffer, weer die vroulike hoofrol as Jaci van Jaarsveld en sal die Vryersvoetpad, te midde van skreeusnaakse oomblikke, aandurf saam met haar (nou nog geheime, maar immer gewilde) manlike hoofrolspeler.
Alexander wat 22 jaar gelede haar eerste verhoogstuk as professionele aktrise op die einste verhoog (toe nog die Performer-teater) opgevoer het, sien daarna uit om terug te keer en Semi-Soet – die musiekblyspel in die AfriForum Teater op te voer. “Ek kan nie wag om hierdie geliefde storie in ’n ander formaat met gehore te deel nie. Dit is alles wat aanhangers van Semi-Soet verwag en méér,” verduidelik Alexander.
Semi-Soet – die musiekblyspel is ’n AfriForum-produksie en word in samewerking met Inhoud Huis Musiek aangebied. Die draaiboek is gebaseer op die oorspronklike rolprent geskryf deur Sandra Vaughn en Anel en James Alexander, met splinternuwe musiek uit die pen van Johan Vorster en Jacomien de Wet. Jannes Erasmus gaan weer in die regisseurstoel sit. Dié gesoute driemanskap het al verskeie treffermusiekteaterproduksies, insluitende Die Gelofte en Die Kaplyn, die lig laat sien.
“Wanneer jy die naam ‘Semi-Soet’ hoor, kry jy outomaties ’n glimlag op jou gesig,” verduidelik Vorster. “AfriForum het dit weer eens moontlik gemaak dat ons ’n ou gunsteling, dié keer in samewerking met Anel Alexander, kon omskep in ’n musiekblyspel met ’n sterbelaaide rolverdeling. Dis ’n groot voorreg om saam met Anel te werk en om nuwe lewe te blaas in ’n produk wat haar so na aan die hart lê. Ons sien baie uit na die publiek se reaksie op Semi-Soet – die musiekblyspel.”
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is hy oortuig dat dié musiekblyspel ’n groot bydrae tot die herlewing van Afrikaanse musiekteater sal maak. “AfriForum is reeds die afgelope paar jaar betrokke by projekte om musiekblyspele weer ’n regmatige plek in die Suid-Afrikaanse kunste te laat inneem. Met Semi-Soet – die musiekblyspel is dit nou die eerste keer wat ons ’n trefferrolprent vat en dit herverpak en met vars, nuwe musiek op die planke bring,” verduidelik Kriel.
“AfriForum Teater beloof met Semi-Soet – die musiekblyspel ’n vlagskipproduksie wat soos goeie wyn harmonieus verweef is, en teatergangers sal vermaak met topgehalte teater en oorspronklike musiek en afgerond word met ’n goeie dosis ligte komedie én ’n tikkie romanse,” sê Salet Smith, AfriForum Teater-bestuurder.
Kaartjieverkope open binnekort. Hou www.afriforumteater.co.za dop vir meer inligting.