Geen vullisverwydering aan Suidkus? Skrap dan tariewe, eis AfriForum
AfriForum se Laer-Suidkus-tak het vandag die Ray Nkonyeni Plaaslike Munisipaliteit in ’n skrywe versoek om die tariewe te skrap wat die afgelope drie maande vir vullisverwyderingsdienste gehef is. Dít omdat die staking waaraan munisipale werkers sedert 25 Oktober verlede jaar deelneem, veroorsaak het dat inwoners se vullis geensins in die afgelope paar maande verwyder is nie.
“Dit was ’n uiterse ongeleë tyd om met hierdie staking te begin, aangesien die toestroming van vakansiegangers ’n treurige beeld van die Suidkus geskets het. Intussen dreig ernstige gesondheids- en omgewingsprobleme om kop uit te steek weens die vullis wat die strate vol lê. Daar is alreeds ’n toename in vlieë en maaiers waar inwoners hulle rommel plaas,” sê JP Nel, AfriForum se voorsitter van die Laer-Suidkus-tak.
“Daar kan eenvoudig nie van inwoners verwag word om vir dienste te betaal wat nooit gelewer is nie. Sommige inwoners moes selfs ekstra betaal het sodat private vullisverwyderaars hul vullis verwyder. Dis onaanvaarbaar, daarom eis AfriForum dat die munisipaliteit die tariewe skrap en inwoners vir drie maande se tariewe krediteer,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.
AfriForum het die munisipaliteit 14 dae gegee om op dié eis te reageer. Indien die munisipaliteit versuim om dit te doen sal die burgerregteorganisasie verdere stappe oorweeg.
“AfriForum sal voortgaan om met die munisipaliteit in gesprek te tree om te verseker dat inwoners se regte beskerm word,” sluit Van Aswegen af.
Besoek www.wordlid.co.za om deel te word van AfriForum en sodoende ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak.