Geen plek vir magsmisbruik in Ngwathe, burgemeester moet waai – AfriForum
AfriForum doen ’n beroep op die burgemeester van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit, Victoria de Beer-Mthombeni, om eerder haar bedanking in te dien as om ’n interdik te bekom om gemeenskapslede te verhoed om optogte te hou.
Die organisasie meen dat hierdie stap net wys dat De Beer-Mthombeni bereid is om die regstelsel te gebruik om haar posisie te beskerm, maar nie bereid is om haar pligte teenoor die gemeenskap na te kom nie.
Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, ontvang AfriForum byna daagliks klagtes van inwoners wat nou al vir jare sonder basiese dienste soos waterlewering, sit. “Die gehalte van dienslewering in dié munisipaliteit is onaanvaarbaar en dit blyk of daar geen politieke wil is om iets daaraan te doen nie. Nou wil die burgemeester die gemeenskap verhoed om hul reg tot vreedsame protes uit te oefen.”
Dit blyk ook of daar ’n nuwe tendens in dié munisipaliteit is waar gemeenskapsleiers na bewering deur staatsamptenare geïntimideer word. Volgens een gemeenskapsleier het ’n staatsamptenaar sy huis besoek en daarop aangedring dat hy inligting oor protesaksies en sy betrokkenheid daarby aan hom deurgee. Volgens Pretorius blyk dit dat die burgemeester eerder die gemeenskap tot stilte wil dwing as om die krisis rondom dienslewering op te los.
Volgens Schalk Burger, voorsitter van die AfriForum-tak in Parys, is dit jammer dat die persoon in beheer nie enige belangstelling het om haar werk behoorlik te doen nie. “Die munisipale bestuurder en sy amptenare is net haar marionette. Ons as gemeenskap is moeg om te sukkel onder haar swak bestuur. Ons het al male sonder tal probeer om in gesprek te tree met haar en haar amptenare, maar die versoeke val op dowe ore. Dit is tyd dat die burgemeester haar trots in haar sak steek en begin dink aan die belange van die gemeenskap.”
Die burgerregteorganisasie het op 20 Junie vanjaar ’n oorwinning in die Bloemfonteinse Hooggeregshof behaal. Dié hof het bevind dat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit nie sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor die inwoners van onder meer Parys, Heilbron, Koppies en Vredefort nakom nie. As deel van ’n gestruktureerde interdik het die hof beveel dat die munisipale raad ontbind moet word en dat die Vrystaatse provinsiale regering onmiddellik by die munisipaliteit moet ingryp. Die Ngwathe-munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl is van die hand gewys en hulle poog nou om dié beslissing in die Hoogste Hof van Appèl te laat omkeer. AfriForum is tans in die proses om met sy regspan te konsulteer om ’n aansoek in terme van artikel 18(3) van die Wet op Hoër Howe 10 van 2023 te bring sodat die hofbevel intussen uitgevoer kan word.