|

Geen keer aan Nelspruit-tak se ywerigheid gedurende April

AfriForum se Nelspruit-tak het gedurende April vanjaar verskeie selfdoenprojekte aangepak om die netheid, veiligheid en leefbaarheid van die dorp te verbeter. Hierdie aksies is in lyn met AfriForum se strewe na gemeenskapsvryheid, waar gemeenskape self verantwoordelikheid neem wanneer owerhede misluk.

Die tak het onder meer die park in Melkwegstraat skoongemaak en die gras gesny – ’n aksie wat die park weer ’n veilige en netjiese ontspanningsruimte gemaak het vir gesinne en kinders om te geniet.

Voorts het die tak ook ongeveer drie een-ton-sakke vol vullis uit verskeie probleemareas verwyder, waar onder die park in Enterprisestraat en beide kante van die Steiltes-sirkel. Dit was vir die tak belangrik om met hierdie opruimingsaksie ’n sigbare verskil te maak in areas waar vullis en verwaarlosing gedreig het om wortel te skiet.

Die tak het ook hul bossiekappers ingespan om die sypaadjie by die Ferreirastraat-kruising skoon te sny, hier is ook vier sakke vol vullis verwyder.

Op die Uitkykpad is 150 kg teer gebruik om slaggate te vul. Hierdie pad word daagliks gebruik en die herstelwerk aan hierdie stuk pad dra dus direk by tot padveiligheid en maak dit ook sommer meer aangenaam vir motoriste om hier te ry.

Volgens Hugo de Beer voorsitter van AfriForum se Nelspruit-tak, bewys hierdie projekte dat gemeenskappe nie hoef toe te kyk terwyl hul omgewings agteruitgaan nie: “Ons kies om nie te wag vir staatsinstellings wat nie opdaag nie. Ons gryp self in en bring verandering – nie net in ons dorpe nie, maar ook in die harte van ons mense.”

“Dit is duidelik dat AfriForum se Nelspruit-tak ’n verskil maak. Dit gee mens werklik moed om te sien hoe hard hierdie tak werk om ’n verskil in hulle omgewing te maak,” sê Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

AfriForum se Nelspruit-tak moedig inwoners aan om betrokke te raak by toekomstige aksies. Saam bou ons ’n vry, veilige en volhoubare toekoms – een projek op ’n slag. Besoek www.wordlid.co.za om deel te word en só ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te help maak.

Soortgelyke plasings