|

Gebrekkige dienslewering raak hele Delportshoop – GOP móét oplossings bied

AfriForum se plaaslike tak in Delportshoop het verlede week skriftelike insette aan die Dikgatlong Plaaslike Munisipaliteit gestuur vir oorweging in die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) vir die 2025/2026-boekjaar. AfriForum se kommentaar is saamgestel ná uitgebreide konsultasie met die inwoners van Delportshoop en sluit dringende infrastruktuur- en diensleweringskwessies in wat die lewensgehalte, veiligheid en welstand van inwoners raak.

Van die belangrikste kwessies wat in die dokument uitgelig word, sluit in:

  • die haglike toestand waarin verskeie teerpaaie, sementstrate en grondpaaie in Delportshoop verkeer, ondanks talle klagtes daaroor;
  • voortslepende waterprobleme, wat gereelde onderbrekings, stadige reaksietye op gebarste pype en swak bestuur van die reservoir insluit;
  • die swak toestand van vullisterreine, onwettige storting en onvoldoende wetstoepassing, wat omgewings- en gesondheidsgevare inhou;
  • die talle straatligte wat buitewerking is en kragbokse wat nie na behore onderhou word nie; en
  • dreineringsprobleme wat paaie beskadig en oorstromings veroorsaak tydens erge reën.

Ingevolge die Grondwet is gemeenskapsdeelname ’n kernkomponent van plaaslikeregeringsake. AfriForum doen dus ’n beroep op die munisipaliteit om hierdie voorleggings ernstig op te neem en die nodige planne en begrotings toe te wys om die probleme op te los.

AfriForum verwelkom enige geleentheid om verder in gesprek te tree met die munisipaliteit om ’n werkbare oplossing vir die gemeenskap van Delportshoop te verseker.

Soortgelyke plasings