Francois Swart het in nuwe Priority Escapes-saak glo ‘vriende’ uit R250k bedrieg
Nóg ’n saak van bedrog is vandag teen Francois Swart, besturende direkteur van die reisagentskap Priority Escapes, aanhangig gemaak. Hierdie keer vir ’n R250 000 Maldive-vakansie wat hy veronderstel was om vir mense te reël wat hy persoonlik mee bevriend was en wat glo vir hom “belangrik” was. Dít bring nou die totale aantal sake wat deur AfriForum se privaatvervolgingseenheid hanteer word, op vyf te staan. Die vermeende vakansieswendelaar bly in aanhouding terwyl hy wag op die uitkoms van sy borgtogaansoek in ’n aparte saak wat deur die eenheid hanteer word. Hy sal môre weer in die Randburg-landdroshof verskyn.
Die eenheid het vandag die sakeman Darren Gallias gehelp om ’n bedrogsaak by die Douglasdale-polisiestasie aanhangig te maak. In sy beëdigde verklaring verduidelik hy hoe hy op 8 Augustus 2023 meer as R250 000 aan Priority Escapes betaal het vir ’n Maldive-vakansie wat in Desember van dieselfde jaar sou plaasvind. Hy het ’n bevestiging van sy bespreking ontvang, maar slegs vier dae later het Swart vir Gallias ’n boodskap gestuur en gesê Priority Escapes het “’n hobbel in die pad getref” en moet “as ’n onderneming hergroepeer”. Gallias het sy eie ondersoek van stapel gestuur en ontdek dat nóg sy vlugte nóg sy verblyf gereël of betaal is.
Dit het in die sake wat deur AfriForum se privaatvervolgingseenheid hanteer word aan die lig gekom dat Swart kliënte reeds op 12 Julie 2023 in kennis gestel het dat hy nie meer sy finansiële verpligtinge kan nakom nie. Hy het egter daarna voortgegaan om geld van kliënte te aanvaar om vakansies te bespreek. Daardie vakansies het egter nooit gerealiseer nie. Die eenheid verteenwoordig reeds Ruan Kruger, Louis Andre Botha, Casper Groenewald, en die paartjie Pamela-Anne Dolan en Bugs van Heerden.
Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê dié sake is glad nie ingewikkeld nie: “Die kriminele klagtes is eenvoudig. Die klaers het die verdagte ten volle betaal om vakansiereëlings namens hulle te tref. Die verdagte het toe dokumente aan hulle oorhandig wat beweer dat hul Maldive-vakansie, insluitend vlugte en verblyf, gereël en ten volle betaal is. Daar is later ontdek dat al die dokumente vervals is.”
Gallias sê hy het verplig gevoel om die saak aanhangig te maak na gelang van die aantal mense wat Swart na bewering bedrieg het. “Hy was ’n vriend van my vrou, wat ons vertrou het. Ons het voorheen ’n wonderlike vakansie deur hom bespreek en het geen rede gehad om te glo dat dit nie dieselfde ervaring sou wees nie. Ons het egter R252 000 op die Donderdag betaal en teen die Saterdag het hy sy onderneming gesluit. Ongelukkig is ons ons vakansie kwyt. Ek doen egter nie hierdie vir my nie, maar vir al daardie mense wat hul hard verdiende geld verloor het. Ek het verneem dat daar selfs ’n vrou was wat met kanker gediagnoseer is, wat al haar geld gespaar het vir só ’n vakansie. Ek kom na vore om daardie mense te help,” sê Gallias.
Swart sal môre, 25 Februarie, in die Randburg-landdroshof verskyn.