Finansiële wanbestuur sink Mbombela-munisipaliteit – maak só sê AfriForum
Die ernstige diensleweringsgebreke in die Mbombela Plaaslike Munisipaliteit kan grotendeels toegeskryf word aan die wanbestuur van munisipale finansies, wat veronderstel is om ten voordeel van dié gemeenskap aangewend te word. Dit volgens AfriForum se Nelspruit-tak, wat in sy omvattende kommentaar op die munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) vir die 2025/2026-boekjaar, uitgelig het hoe munisipale finansies sinvol aangewend kan word om die munisipale gebied in ’n beter toestand te laat.
AfriForum se kommentaar fokus op uitdagings met betrekking tot dienslewering, maar spesiale fokus is geplaas op finansiële volhoubaarheid. Onder die mees kritieke kwessies is die stad se Eskom-skuld van meer as R1 miljard, groeiende begrotingstekorte en die verwaarlosing van openbare ruimtes soos parke en sypaadjies.
Die jongste jaarverslag van die munisipaliteit toon ’n begrotingstekort van R280 miljoen, wat sedert verlede jaar (R117 miljoen) aansienlik gegroei het. Hiermee saam word R726 miljoen van die begroting toegeskryf aan ongemagtigde uitgawes, R114 miljoen aan vrugtelose en verkwistende besteding, R81 miljoen in onreëlmatige uitgawes en R118 miljoen aan oorbesteding op finansieringskoste.
“Die sistemiese wanbestuur van die munisipaliteit se finansies en die algehele gebrek aan interne finansiële kontrole dreig om die munisipaliteit te laat sink. Hiermee saam is daar R76 miljoen oorbestee aan oortydbetaling aan werknemers. Vir ’n stad wat tans ernstige diensleweringsprobleme ondervind met betrekking tot die instandhouding van infrastruktuur en openbare ruimtes is dit baie kommerwekkend,” sê Arlo Van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.
AfriForum het in reaksie op die agteruitgang van die munisipaliteit se finansies, aanbevelings gemaak wat ten voordeel van al die inwoners van die munisipale gebied sal strek. Die burgerregteorganisasie het ’n volhoubare en koste-effektiewe plan voorgelê vir die instandhouding van openbare ruimtes en sypaadjies in die stad. Die voorstel is dat die munisipaliteit in tien geografiese sones verdeel word, elk met ’n toegewyde span werkers wat toegerus is met die nodige gereedskap en logistieke ondersteuning. Hierdie spanne sal verantwoordelik wees vir die gereelde instandhouding van openbare ruimtes, velde en parke. Hulle sal onder meer gras sny, vullis verwyder en sypaadjies herstel. Die totale oprigtingskoste beloop R12,9 miljoen, terwyl die jaarlikse bedryfskoste op R16,9 miljoen te staan kom – ’n realistiese en haalbare begroting, indien die wanbesteding op oortydbetaling gestaak word.
AfriForum het aanbeveel dat die munisipaliteit strenger beleide rakende oortydbetaling opstel en volg, aangesien die buitensporige bedrag vir oortyd boonop met R11 miljoen gestyg het in vergelyking met die vorige boekjaar.
“Die munisipaliteit is besig met ernstige vermorsing van belastingbetalers se geld vir lae gehalte werk wat nie behoorlike dienslewering verseker nie. Dié geld kan eerder elders aangewend word, soos vir die opknapping en instandhouding van sypaadjies, parke en openbare ruimtes,” sê Van Heerden. “Deur in die aanvanklike bedryfskostes te belê vir buurtspanne, kan die munisipaliteit langtermyn doelwitte laat realiseer, eiendomswaarde verbeter en selfs toerisme aanmoedig. Hierdie projek stem ooreen met die munisipaliteit se doelwitte vir volhoubare stedelike ontwikkeling en omsigtige finansiële bestuur.”
AfriForum doen hiermee ’n beroep op die munisipaliteit om hierdie kommentaar in ag te neem as deel van die GOP-proses en om daadwerklik op te tree om beide finansiële bestuur te verbeter en dienslewering te herstel. Die organisasie verwag van die munisipaliteit om openbare terugvoer te gee en duidelike aksieplanne te formuleer. AfriForum sal voortgaan om hierdie prosesse te monitor en verwag dat die uiteindelike GOP nie net ’n dokument op papier sal wees nie, maar ’n praktiese padkaart tot herstel en verantwoordbaarheid.