|

Eskom duidelik onder druk oor ‘verpligte’ registrasies van sonpanele

Klankgreep: Deidré Steffens (Afrikaans)
Klankgreep: Deidré Steffens (Engels)

Eskom se jongste aankondiging dat die kragreus herbesin oor die vereiste van professionele ingenieurs se aftekening op sonkrag-installasies, is ’n stap in die regte rigting. AfriForum waarsku egter dat Eskom steeds nie genoegsame reëls het om boetes op te lê vir stelsels wat nie geregistreer is nie.

AfriForum het al vantevore ’n formele brief aan Eskom gestuur om duidelikheid te kry oor die wetlike en regulatoriese raamwerk waarop die kragvoorsiener steun om die verpligte registrasie van kleinskaalse ingeboude kragopwekking (SSEG/Small-Scale Embedded Generation), wat minder as 100 kW opwek, af te dwing. Nadat geen reaksie ontvang is nie, het AfriForum ’n tweede brief en uiteindelik ’n prokureursbrief aan Eskom gerig, wat hom tot antwoord gedwing het.

Hoewel Eskom op die prokureursbrief gereageer het, was die inligting steeds onvoldoende. Geen spesifieke wetgewing, beleidsraamwerk of regulasie is verskaf wat die registrasie van stelsels kleiner as 100 kW verpligtend maak nie. AfriForum het van die begin af beklemtoon dat Eskom nie oor die nodige regsgrondslag beskik om hierdie registrasie af te dwing nie en dat daar ook geen wetlike vereiste bestaan dat stelsels deur ’n professionele ingenieur onderteken moet word nie.

Nou het Eskom self erken dat die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) besig is om standaarde te herevalueer om voorsiening te maak dat professionele elektrisiëns – en nie noodwendig ingenieurs nie – voortaan die aftekening van SSEG-stelsels kan doen. “Hierdie erkenning bevestig presies wat AfriForum al maande lank sê: Eskom se huidige vereistes rus nie op ’n behoorlike wetlike of regulatoriese grondslag nie,” meen Deidré Steffens, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

“Die feit dat Eskom hierdie kwessie heroorweeg, is ’n stap in die regte rigting en ’n duidelike bewys dat druk van gemeenskapsorganisasies soos AfriForum tot verandering lei,” sluit Steffens af.

Eskom het intussen egter aangekondig dat die vrystelling van sekere registrasiefooie slegs tot Maart 2026 sal geld en dat verbruikers daarna moontlik met boetes gepenaliseer kan word indien hulle nie hul stelsels registreer nie. AfriForum beskou hierdie dreigement as sonder enige regsgeldigheid, aangesien Eskom nog nie ’n enkele regulasie kon aandui wat hom magtig om sulke boetes op te lê nie.

“Ons staan nie gekant teen veiligheid of die nakoming van geldige regulasies nie. Wat ons egter beslis teenstaan, is dat verbruikers gedwing word om aan nie-bestaande regulasies te voldoen teen enorme kostes en sonder enige duidelike regsraamwerk,” sê Morné Mostert, bestuurder vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum. “Eskom se eie erkenning dat standaarde eers deur die SABS hersien moet word, wys dat ons van die begin af reg was. Dat daar nou beweeg word om elektrisiëns toe te laat om installasies te sertifiseer, is ’n oorwinning vir die gemeenskap.”

AfriForum sal voortgaan om Eskom se prosesse te moniteer en druk toe te pas om te verseker dat enige vereistes wat aan die publiek opgelê word, nie net regverdig en deursigtig is nie, maar ook binne ’n duidelike en afdwingbare wetlike raamwerk val. Indien Eskom nie spoedig volle duidelikheid bied nie, behou AfriForum die reg voor om verdere regsoptrede te oorweeg.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf