|

Elektriese infrastruktuur op Warrenton moet opgegradeer word

Die AfriForum-tak in Warrenton versoek die Marageng Plaaslike Munisipaliteit om die dorp se onstabiele kragnetwerk ’n prioriteit te maak in die nuwe finansiële jaar 2025/2026. Die elektriese infrastruktuur is in ’n swak toestand met inwoners en ondernemings wat gereeld langdurige kragonderbrekings, selfs tydens ligte weerstoestande, ervaar. Die munisipaliteit moet dringend prioriteit gee aan die herstel en opgradering van die kragnetwerk en voldoende fondse in die komende finansiële jaar daarvoor begroot. AfriForum het op 26 Mei hierdie skriftelike voorstelle met betrekking tot elektriese infrastruktuur op die Marageng-munisipaliteit se jaarlikse Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) ingedien.

Buiten die voortslepende kragkrisis, het AfriForum ook ander probleme in Warrenton uitgesonder wat aandag moet geniet en waarvoor die munisipaliteit moet begroot word:

  1. Munisipale beplanning: Die toename in informele behuisingsstrukture verg dringende aandag. Die munisipaliteit moet ’n omvattende ruimtelike ontwikkelingsraamwerk aanneem en implementeer om hierdie gemeenskappe te formaliseer en te ondersteun. Die munisipaliteit moet die moontlikheid oorweeg om die begroting vir dienslewering en behuising te hersien.
  2. Plaaslike begraafplase: Warrenton se begraafplase is swak onderhou en ly onder vandalisme. Daar is ook ’n tekort aan ruimte om die begraafplase uit te brei. Die munisipaliteit moet dringend instandhouding en opgraderings prioritiseer en hiervoor begroot.
  3. Straatligte: AfriForum beveel aan dat straatligte na sonkrag-eenhede omgeskakel word. Hierdie volhoubare en kostedoeltreffende opsie moet deel vorm van die nuwe begroting.
  4. Vullisterrein: Die huidige vullisterrein voldoen nie aan omgewingsregulasies nie. Die terrein moet opgegradeer en volhoubaar in stand gehou word. AfriForum sal ’n ouditverslag voorsien om beplanning en begroting te ondersteun.
  5. Parke: Die munisipaliteit moet in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens toesien dat parke skoon, veilig en ordelik bly. Hierdie ruimtes is belangrik vir gemeenskapswelstand.
  6. Paaie en infrastruktuur: Verskeie paaie in Warrenton is vol slaggate wat voertuie beskadig en veiligheid in gedrang bring. Die munisipaliteit moet fondse begroot vir dringende padherstelwerk.Boonop is daar ook ’n tekort aan sigbare padtekens en padmerke, veral ongemerkte spoedhobbels wat ’n gevaar inhou. Begroting vir die herstel en instandhouding van padmerke is noodsaaklik.
  7. Netheid van die dorp: Daar is ’n dringende behoefte aan skoon, veilige en goed-onderhoude openbare toilette. Dit is noodsaaklik vir openbare gesondheid en moet in die begroting opgeneem word.Die dorp moet ook daagliks skoongemaak word om goeie higiëne te handhaaf. AfriForum stel voor dat die sypaadjies weekliks ontsmet word.

“AfriForum bly verbind tot konstruktiewe samewerking met die munisipaliteit en die gemeenskap om hierdie uitdagings die hoof te bied. Inwoners verdien betroubare dienslewering, veilige infrastruktuur en ’n skoon leefomgewing. Die GOP-voorstelle is daarop gemik om verantwoordelike plaaslike regering te ondersteun en ’n beter toekoms vir almal in Warrenton te help bou,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

Soortgelyke plasings