DWS se oorlog op waterlekkasies faal ondanks groot beloftes, besteding van miljarde
Klankgreep: Lambert de Klerk (Afrikaans)
Soundbite: Lambert de Klerk (English)
AfriForum hou vol dat die tyd ryp is dat gemeenskappe wat regstreeks ’n belang in die behoorlike funksionering van hul dorpe en woonbuurte het, in staat gestel word om verantwoordelikheid te neem vir die identifisering en herstel van waterlekke, asook die instandhouding van hierdie noodsaaklike infrastruktuur.
Die regering – van nasionale tot plaaslike vlak – het herhaaldelik sy onvermoë getoon om noodsaaklike dienste te lewer en openbare fondse doeltreffend te bestuur ten einde dié waterkrisis te pak. Dít is opnuut bewys deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) se die jongste bevindinge, wat die departement van Water en Sanitasie (DWS) se sogenaamde “War on Leaks” as ’n duur, wanbestuurde en uiteindelik mislukte program ontbloot het.
Die War on Leaks-projek, wat in 2015 van stapel gestuur is met ’n goedgekeurde begroting van R2,2 miljard, is voorgehou as ’n dapper ingryping om die land se groeiende waterverlieskrisis die hoof te bied en terselfdertyd werk te skep. Dié projek het instede die einste probleem wat dit probeer oplos het ’n dekade later vererger. In 2015 het Suid-Afrika 35% van sy behandelde water weens lekkasies verloor. In 2025, nadat ’n bykomende R2,5 miljard deur koste-oorskrydings verkwis is, het waterverliese tot 47% toegeneem.
Die SOE se jongste aanbieding aan die parlement se Staande Komitee oor Openbare Rekeninge (Scopa) het bevestig dat die projek, tesame met ander DWS-veldtogte, deur bedrog, onvolledige werk, oorbetalings en die manipulasie van voorsieningskettingprosesse gekenmerk is. Amptenare binne die departement was medepligtig, het die sertifisering van bedrieglike werk vergemaklik en met kontrakteurs saamgewerk om die staat ’n rat voor die oë te draai.
“Ver van die beloofde oplossings te wees, het die War on Leaks geen sigbare resultate gelewer nie. Die staat het ook weereens bewys dat dit nie vertrou kan word met basiese dienslewering nie, wat nog te sê die beveiliging van noodsaaklike nasionale hulpbronne,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake.
Met ’n regering wat deurlopend gemeenskappe in die steek laat met basiese dienslewering, bly AfriForum onwrikbaar in sy strewe om gemeenskappe te bemagtig en in staat te stel om verantwoordelikheid vir plaaslike infrastruktuur te neem, veral wanneer dit kom by die identifisering en herstel van waterlekkasies en die instandhouding van hierdie kritieke infrastruktuur.