Dubbele moord op Baaise vullisterrein tragiese gevolg van gebrekkige terreinbestuur
Die koelbloedige moord op ’n pa en seun by ’n stortingsterrein in Gqeberha vandeesweek is simptomaties van die krisis wat besig is om op munisipale vullisterreine landwyd af te speel. Só sê AfriForum, wat hom al telkemale uitgespreek het teen die gebrek aan veiligheid en toegangsbeheer by verskeie munisipale vullisterreine. Die burgerregteorganisasie doen jaarliks ’n oudit om te bepaal of vullisterreine aan onder meer die veiligheidsvereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen.
“Die Nelson Mandelabaai Metropolitaanse Munisipaliteit se belofte om meer as R65 miljoen aan te wend om die situasie op die Arlington-stortingsterrein te verbeter en honderde informele herwinnaars se werksaamhede op die terrein te formaliseer, blyk net lippediens te wees. In werklikheid word weinig gedoen om hiér en elders veiligheid- en bestuursmaatreëls op grondvlak op te skerp,” sê Marais de Vaal, AfriForum se adviseur vir Omgewingsake.
“Indien die gemeenskap elke keer die risiko loop om hul lewens op munisipale vullisterreine te verloor, gaan onwettige storting en omgewingsbesoedeling toenemend ’n probleem wees. Dit is weereens ’n bewys dat munisipaliteite se onvermoë om vullisterreine behoorlike te bestuur die einste gemeenskappe in die steek laat wat vir hierdie dienste betaal.”
AfriForum stuur vandag ’n skrywe aan die munisipale bestuurder waarin ’n uiteensetting van die veiligheidsmaatreëls by die Arlington-vullisterrein aangevra word en die stappe wat gedoen word om wetsgehoorsame burgers by die terrein te beskerm. ’n Vergadering word ook met die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing se adjunk-direkteurgeneraal van Afvalbestuur, Mamogala Musekene, beplan om die onafhanklike bestuur van vullisterreine en die aktiewe betrokkenheid van gemeenskappe en die privaatsektor te bespreek.
Veiligheid is een van die bepalende faktore in AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit. Daar is al meermale bevind dat sommige munisipale vullisterreine onwettig beset word, min of geen toegangsbeheer toepas en dat daar toegelaat word dat informele herwinnaars die publiek intimideer wanneer hulle vullis stort.
“In sommige van die ergste gevalle is dit asof informele herwinnaars eerder aan die stuur is van sake by vullisterreine,” sê De Vaal. “AfriForum-personeel is al op meer as een geleentheid verhoed om oudits uit te voer en daar was selfs ’n geval waar informele herwinnaars ’n AfriForum-personeellid, wat die oudit moes doen, se motor probeer kaap het.”
Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, sê hierdie soort wetteloosheid, wat selfs op vullisterreine seëvier, sal verder uitkring indien die nasionale en plaaslike regering nie gou daarteen optree nie.
“Die wrede dubbele moord by die Arlington-stortingsterrein is die direkte gevolg van ’n regering wat nie die veiligheid van sy burgers prioritiseer nie. AfriForum doen ’n beroep op die publiek om by plaaslike veiligheidstrukture en buurtwagte betrokke te raak sodat daar meer hande is om misdaad in gemeenskappe vas te vat.”
Besoek www.wordlid.co.za om by AfriForum betrokke te raak en ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak.