Dis tyd vir goedkoper mediesefondsopsies, sê AfriForum
Klankgreep: Louis Boshoff (Afrikaans)
Klankgreep: Louis Boshoff (Engels)
AfriForum het gister in sy kommentaar op die Raad op Mediese Skemas (RMS) se navorsingsverslag oor laekostevoordeleopsies benadruk dat daar ’n dringende behoefte aan goedkoper mediesefondsopsies in Suid-Afrika is. Dié RMS-verslag volg in reaksie op ‘n raamwerk wat in 2015 vir laekostevoordeleopsies voorgestel is met die doel om wysigings aan bestaande wetgewing te maak om die implementering van goedkoper mediesefondsopsies moontlik te maak. AfriForum het in sy kommentaar onder meer ingestem dat daar gebreke aan die voorgestelde raamwerk is, maar voer aan dat dit beter is om die bestaande voorstel te implementeer, as om ’n wysigingsproses of alternatiewe voorstel vir jare te laat sloer.
Kragtens die bestaande Wet op Mediese Skemas 131 van 1998 word mediese fondse verplig om ’n stel voorgeskrewe minimum voordele (VMV’s) te bied as deel van elke opsie. Die wetgewing het ten doel om uitbuiting te voorkom, maar veroorsaak dat selfs intreevlak-mediesefondsopsies nie werklik bekostigbaar is nie. Die laekostevoordeleopsie-raamwerk bied aan mediese fondse beperkte vrystelling van VMV’s.
Die RMS het in Oktober 2023 sy verslag oor laekostevoordeleopsies vrygestel waarop die minister van Gesondheid in Februarie vanjaar kommentaar versoek het. AfriForum het bondige kommentaar hierop ingedien wat die beginsel uitstip dat goedkoper mediesefondsopsies noodsaaklik is, maar terselfdertyd besorgdheid oor die bestaande voorstel beklemtoon.
Volgens Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder oor gesondheid, bestaan die wetgewing wat VMV vereis vanaf 1998 en is daar reeds in 2001 met navorsing begin om vir meer sakpas mediesefondsopsies toe te laat. “Ná 24 jaar se navorsing, bespreking, raadpleging van belanghebbendes en wysigings aan voorstelle, is nog geen voorstel deur die minister goedgekeur nie. Intussen smag inwoners van Suid-Afrika na goedkoper mediesefondsopsies.”
Boshoff voeg by dat staatsgesondheidsorg nie die gaping kan vul wat gelaat word in die afwesigheid van bekostigbare mediesefondsopsies nie en dat Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) ook nie ’n oplossing bied nie. “Die Departement van Gesondheid is oneffektief in die bestuur van openbare hospitale en klinieke, maar wil terselfdertyd nie beperkende regulasies vir die privaat sektor verslap nie. Dit is tyd dat die minister ruimte gee vir privaat oplossings.”