|

Delportshoop slaan nuwe rigting in met sigbare straatname

AfriForum se Delportshoop-tak het onlangs die randstene van vyf strate, wat geen sigbare straatname gehad het nie, oorgeverf. Hiermee saam het die tak die gras op die sypaadjies gesny om seker te maak dat inwoners en besoekers duidelik die nuutgeverfde straatname kan sien.

Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo, sê die tak het die name van Fourie-, Ulco-, Scholtz-, Sameloop- en Krugerstraat op randstene geverf. Die randstene is strategies op straathoeke geplaas sodat dit maklik vir motoriste sigbaar is. Hiermee saam het die tak die gras om die nuutgeverfde straatname gesny en skoongemaak om te verseker dat niks die sigbaarheid van die straatname belemmer nie.

“Dit is van kardinale belang dat nooddienste en wetstoepassers vinnig op noodsituasies kan reageer en straatname wat duidelik sigbaar is verbeter hierdie reaksietye. Die nuutgeverfde straatname vergemaklik boonop besoekers, afleweringsdienste en individue wat nie vertroud is met die omgewing nie, se ervaring op die dorp,” sê Smit.

AfriForum is daartoe verbind om gemeenskappe te ondersteun wanneer plaaslike munisipaliteite versuim om hulle verpligtinge na te kom. Een van die maniere wat AfriForum dít doen is om plaaslike infrastruktuur op te knap en te verbeter.

“AfriForum se Delportshoop-tak is vol vertroue dat hierdie verbeterings nie net inwoners en besoekers sal help om moeiteloos die strate te navigeer nie, maar ook ’n veiliger en georganiseerde omgewing sal aanmoedig,” sluit Smit af.

Dié AfriForum-tak beplan om in die volgende paar maande voort te gaan om Delportshoop op te knap deur slaggate te herstel, bome te snoei en die plaaslike begraafplaas skoon te maak.

Besoek www.wordlid.co.za om vandag nóg by AfriForum betrokke te raak.

Soortgelyke plasings