Delmas-veiligheidsdag: Samewerking noodsaaklik vir veiliger gemeenskappe – AfriForum
AfriForum, SAAI en verskeie ander veiligheidsrolspelers, insluitende die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Delmas, het Dinsdag (18 Augustus) ’n veiligheidsdag aangebied vir boere van die Delmas-omgewing. Dié geleentheid was daarop gemik om boere te bemagtig met praktiese oplossings vir veiliger gemeenskappe. Ongeveer 60 boere het dié dag bygewoon.
Lede van AfriForum se Gemeenskapsveiligheidsafdeling het onder meer dié organisasie se noodknoppietoep aan die boere bekendgestel en meer inligting oor AfriForum se bestaande veiligheidshulpbronne – soos hommeltuie en radionetwerke – gegee.

Die veiligheidsituasie in Delmas het ook onder die loep gekom en verskeie regskwessies waarmee boere in die omgewing sukkel, is bespreek.
Ander rolspelers het onder meer benadruk hoe die gebruik van tegnologie, soos kameranetwerke en radio’s, ingespan kan word om veiligheid te verbeter en booswigte vas te trek.
Raymond Hohls, bestuurder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum, hou vol dat veiligheid en samewerking hand aan hand gaan. “Samewerking tussen verskillende organisasies is uiters belangrik om veilige gemeenskappe te bewerkstellig. Gemeenskappe moenie ophou met inisiatiewe soos hierdie nie en aanhou om hul veiligheid te prioritiseer,” verduidelik hy.
Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, is dae soos hierdie noodsaaklik in elke gemeenskap om gemeenskapslede op hoogte te hou van al die nuutste verwikkelinge in die maniere waarop boere hul gesinne kan beveilig. Veiligheidsdae bevorder ook samewerking met alle rolspelers, sê hy.

Die kwessie van plaasveiligheid bly steeds een van die grootste struikelblokke vir kommersiële boerderye, meen dr. Theo de Jager, voorsitter van SAAI. “Die ondoeltreffendheid van die veiligheidsmagte en gepaardgaande toename in misdaad op die platteland, het SAAI en AfriForum genoop om hul voetspoor in boerderygemeenskappe uit te bou deur die organisering van plaaswagte, opleiding, tegnologie en paraatheid. Tydens die veiligheidsdag is die nuutste veldtogte en tegnologie ten toon gestel en ’n behoorlike opname van behoeftes gemaak,” sluit hy af.
AfriForum sal voortgaan om saam met rolspelers en gemeenskappe te werk om veiligheid te verbeter. Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za en raak vandag nog betrokke by jóú naaste buurtwag.
- Dekfoto slegs ter illustrasie.



