|

Delmas Valke-buurtwag maak wéér groot deurbrake in stryd teen misdaad, arresteer 15 verdagtes

AfriForum se Delmas Valke-buurtwag het in Maart wéér verskeie noemenswaardige suksesse in dié streek se stryd teen misdaad behaal en in dié maand alleen toegesien dat 15 vermeende misdadigers vir uiteenlopende misdade aangekeer word. Dit bring die totale aantal arrestasies wat dié buurtwag in die eerste drie maande van die jaar uitgevoer het, op meer as 35 te staan.

Buurtwaglede se paraatheid en ingesteldheid op veiligheid is in Maart tydens een van dié voorvalle gedemonstreer toe ’n lid van die Delmas Valke-buurtwag tydens ’n gesprek met ’n kennis ’n verdagte bakkie opgemerk het. Die buurtwaglid het spoedig gereageer en in samewerking met plaaslike sekuriteitsmaatskappye die voertuig voorgekeer. Die bestuurder van die voertuig is op die toneel gearresteer. Die ander verdagtes het egter te voet gevlug. ’n Vrag bestaande uit 21 sakke groenmielies is in die aangekeerde se besit gevind. Die vrag is vermoedelik op een van die plase in die Delmas-omgewing gesteel.

Benewens die rits arrestasies, het dié buurtwag ook in Maart toegesien dat twee voertuie, wat na bewering gebruik is in misdade, by die plaaslike polisiestasie ingeboek word. Die buurtwag se mediese span het op hulle beurt op 24 mediese ongevalle, insluitende motorongelukke en ongevalle na aanleiding van misdade, gereageer.

“Ons buurtwag is ten volle toegewyd aan die beveiliging van Delmas. Die maandelikse suksesse is ’n bewys hiervan,” beklemtoon Carel Botha, voorsitter van AfriForum se Delmas-tak.

Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Delmas-tak. Besoek: www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings