Delmas se misdadigers word met valk oë opgemerk en vasgevat
AfriForum se Delmas Valke-buurtwag het ’n besige April gehad en verskeie suksesse in die dorp behaal.
Tydens een van die suksesse het die Delmas Valke-buurtwag en verskeie ander veiligheidsrolspelers, waaronder die plaaslike buurtwag Sundra Rietkol Bulldogs, op ’n gewapende rooftog in Botleng gereageer. Die verdagtes het drie slagoffers geteiken, waarvan die een geskiet is en kontant is gesteel. Die veiligheidsrolspelers het vinnig gekoördineer en die Delmas Valke-mediese span het hulp gebied aan die slagoffer wat geskiet is. Die ander buurtwaglede het die verdagtes, wat te voet in nabygeleë landerye ingevlug het, agternagesit. Twee verdagtes is gevind en vir ondervraging ingeneem. Die soektog is verder voortgesit waartydens ’n verdagte voertuig met drie insittendes opgemerk is. Hierdie drie persone is ook vir ondervraging ingeneem. Intussen is ’n vierde verdagte, wat in die grasse daar naby weggekruip het, opgemerk. Dié verdagte is gearresteer en positief met die gewapende rooftog verbind.
Behalwe vir dié voorval, was lede van AfriForum se Delmas Valke-buurtwag ook suksesvol daarin om ’n rooftog by ’n plaaslike winkel af te weer. Patrollielede het opgemerk dat die elektriese heining van ’n winkelsentrum beskadig is. By nadere ondersoek het die buurtwaglede op toerusting, wat gebruik word om by eiendom in te breek, in ’n winkel afgekom en die eienaars gekontak. Sover die buurtwaglede kon opmerk, het die inbrekers sonder enige gesteelde items gevlug.
Die Delmas Valke-buurtwaglede het in April ook ’n verdere vyf verdagtes vir verskeie ander misdade gearresteer en twee gesteelde voertuie teruggevind. Die Delmas Valke-mediese span het op 18 voorvalle hulp gebied totdat mediese dienste opgedaag het.
“Ons buurtwag se suksesse is alles te danke aan goeie opleiding en die deursettingsvermoë van ons lede,” sê Carel Botha, voorsitter van AfriForum se Delmas-tak.
Besoek www.wordlid.co.za om ’n lid van AfriForum te word.