Delareyville: Water terug ná AfriForum antwoorde eis
Die inwoners van Delareyville het weer water ná hulle vir dae lank daarsonder moes regkom. AfriForum het antwoorde van die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit geëis oor waarom die water af is en versoek dat die watertoevoer herstel moet word. Volgens die organisasie versaak die munisipaliteit sy grondwetlike verantwoordelikheid deur nie water te voorsien nie en nie te kommunikeer oor die redes waarom daar nie watervoorsiening kan plaasvind nie.
Die organisasie beklemtoon dat betroubare toegang tot skoon water ’n basiese mensereg is soos dit in artikel 27 van die Grondwet vervat is. Die inwoners van Delareyville se regte word dus geskend en laat ernstige vrae ontstaan oor die munisipaliteit se bestuur en vermoë om op te tree tydens ’n krisis.
AfriForum het ’n formele skrywe aan die Tswaing-munisipaliteit gerig waarin die organisasie ook ’n dringende vergadering met die betrokke munisipale amptenare versoek het om te praat oor die voortslepende probleme veral ten opsigte van water.
“Ons kan nie toelaat dat basiese dienslewering in ons gemeenskappe in duie stort nie. Die inwoners van Delareyville verdien beter, en ons sal voortgaan om plaaslike regering aan hul grondwetlike pligte te hou,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.
“AfriForum is diep bekommerd oor die gebrek aan deursigtigheid en verantwoordbaarheid wat die munisipaliteit tot dusver getoon het. Ons doen ’n ernstige beroep op die munisipaliteit om spoedig op te tree anders sal ons nie skroom om verdere stappe te doen nie,” sluit Nel af.
Raak vandag nog by AfriForum betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig: Klik hier vir meer inligting.