Water
|

Data wat AfriForum bekom wys Gautengers word verkeerdelik vir waterkrisis blameer, metro’s óók skuldig

Klankgreep: Marais de Vaal (Afrikaans)

Soundbite: Marais de Vaal (English)

AfriForum waarsku dat die narratief wat regeringsentiteite oor die eskalerende waterkrisis in Gauteng aanvoer, misleidend is. Die parlementêre portefeuljekomitee oor water en sanitasie het verlede week opnuut ’n beroep op Gautengers gedoen om “water spaarsamig te gebruik” en “dringend [die] gebruik [daarvan] tot wêreldwye norme te verminder”. AfriForum voer aan dat hierdie voortgesette uitsprake gegrond is op die waninterpretasie van data, wat die blaam onregverdig en alleenlik op verbruikers plaas. Dit terwyl die aandag afgelei word van Gauteng se metropolitaanse munisipaliteite (Ekurhuleni, Johannesburg en Tshwane) se wanbestuur van die hulpbron.

Die aanspraak daarop dat wetsgehoorsame inwoners teveel water gebruik en dringend dié praktyk moet staak of die risiko loop om met verdere waterbeperkings gestraf te word, berus op die algehele daaglikse waterverbruik per capita. Hierdie syfers word opgeblaas deur die verskyning van waterlekke en onwettige verbindings, asook ongereguleerde waterverbruik deur die munisipaliteite self.

“Dié syfers weerspieël nie die werklike huishoudelike waterverbruik nie, maar vorm steeds die basis van die narratief oor hoë waterverbruik. Wetsgehoorsame inwoners word dus implisiet van watervermorsing beskuldig, ondanks die feit dat dié inwoners in sommige gevalle al minder water gebruik,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.

AfriForum het vroeër vanjaar formele aansoeke ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) by al drie metro’s ingedien om toegang tot gedetailleerde rekords oor die watergebruik oor die afgelope vyf jaar (Julie 2019 tot Junie 2024) te verkry. Slegs die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit het inligting hieroor verskaf.

“Die ander twee munisipaliteite se versuim om hierdie belangrike inligting beskikbaar te maak, wek ernstige kommer oor hul verbintenis tot deursigtigheid en hul vermoëns om die krisis die hoof te bied,” sê De Vaal.

’n Voorlopige ontleding van die Tshwane-metro se waterverbruik het intussen verskeie teenstrydige getoon met die narratief dat inwoners bloot teveel water gebruik en dat dít alleenlik aanleiding gee tot die waterkrisis. Dié syfers toon inteendeel dat al hoe minder waterverbruik gemeet word – daar is oor die afgelope vyf jaar 3,8% minder watermeters tot die stelsel verbind, hoewel die bevolking toegeneem het – en dat dié wat wel gemeet, wettiglike bekom en vir betaal word, se gebruik afneem (4,5%).

Die munisipaliteit is self ook een van die skuldiges as dit kom by hoë watergebruik. Luidens die beskikbare syfers, het die Tshwane-metro se waterverbruik vir eie doeleindes oor die afgelope vyf jaar met 433% die hoogte in geskiet. Dié water word onder meer gebruik vir brandbestryding, om stelsels te spoel vir instandhoudings- en herstelwerk en om munisipale terreine en fonteine aan die gang te hou.

Intussen gaan ’n derde van alle water wat in die Tshwane-metro se sisteem gepomp word verlore weens onwettige verbindings, diefstal en waterlekke.

“Dié uiteensetting van die syfers is ’n meer akkurate maatstaf van huishoudelike waterverbruik as die opgeblaasde daaglikse waterverbruik per capita, wat geensins die munisipaliteite se mislukkings met betrekking tot die bekamping van onwettige verbindings en die onderhoud van waterinfrastruktuur in berekening bring nie,” sê De Vaal.

“Dit ondermyn ook duidelik die bewerings dat die stygende vraag na water deur verbruikers die krisis aandryf. Inteendeel, dit blyk dat betalende verbruikers minder water gebruik – nie meer nie. Die oorsaak van die probleem lê dus elders en totdat hierdie feit nie erken word nie, sal geen werklike of volhoubare oplossings gevind word nie.”

AfriForum is in die proses om die Tshwane-metro se waterverbruikrekords ten volle te ontleed. Sodra al die relevante inligting deeglik verwerk is, sal ’n omvattende verslag vrygestel word.

AfriForum doen intussen ’n beroep op die betrokke metro’s om hulle daarvan te weerhou om inwoners die sondebok te maak en die werklike kwessies te begin hanteer – verouderde infrastruktuur wat nie behoorlik in stand gehou word nie, growwe wanbestuur van die hulpbron en ernstige waterverliese wat aangedryf word deur onwettige verbindings en lekkasies.

Soortgelyke plasings