|

Daniëlskuil-paaie donkiejare laas onderhou; verg dringende aandag – AfriForum

Die AfriForum-tak in Daniëlskuil het amptelik skriftelike kommentaar op die Kgatelopele Plaaslike Munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) vir die 2025/2026-boekjaar ingedien. Luidens AfriForum se kommentaar is veral die dorp se padinfrastuktuur in ’n bedenklike toestand. Verskeie paaie is vol slaggate, wat voertuie beskadig en ’n gevaar vir padgebruikers inhou. Daar is ook ’n gebrek aan padmerke en sigbare spoedhobbels wat dringend aandag benodig.

AfriForum het in sy kommentaar beklemtoon dat dit noodsaaklik is dat die gemeenskap betrek word by die beplanning en implementering van plaaslike regering se doelwitte, soos vereis deur artikel 152 van die Grondwet. Die organisasie het ook verwys na Regulasie 15 van die Plaaslike Regering: Munisipale Beplanning en Prestasiebestuursregulasies wat bepaal dat munisipaliteite forums moet daarstel vir gemeenskapsdeelname aan die GOP-proses.

AfriForum het verskeie dringende kwessies uitgelig wat volgens die organisasie in die nuwe GOP aandag moet geniet:

  1. Elektrisiteit: Die dorp se kragnetwerk is in ’n kritieke toestand, wat gereeld tot langdurige kragonderbrekings lei. Die tak eis dringende herstelwerk en opgraderings.
  2. Munisipale beplanning en behuising: Daar is ’n toename in informele nedersettings om Daniëlskuil. ’n Volhoubare ruimtelike ontwikkelingsplan moet geïmplementeer word met voldoende voorsiening vir behuising en basiese dienste in die begroting.
  3. Begraafplase: Die toestand van Daniëlskuil se begraafplase is onaanvaarbaar met talle beskadigde grafte. Die tak versoek onmiddellike opgraderings en die beskikbaarstelling van addisionele ruimte.
  4. Straatligte: AfriForum stel voor dat die munisipaliteit prioriteit gee aan die installering van sonkrag-straatligte as ’n volhoubare en kostedoeltreffende oplossing.
  5. Parke: Parke moet skoon en veilig bly vir openbare gebruik. AfriForum vra dat die toepassing van regulasies in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die munisipaliteit, versterk word.
  6. Netheid van die dorp: Daar is ’n dringende behoefte aan meer openbare toilette en die gereelde skoonmaak van die dorp. AfriForum stel voor dat die sypaadjies weekliks ontsmet word.

Volgens Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo, is hierdie kommentaar die resultaat van deeglike waarneming en konsultasie met die gemeenskap. “Ons vertrou dat die munisipaliteit nie net die wetlike vereistes vir gemeenskapsdeelname sal nakom nie, maar dat daar werklik geluister sal word na die inwoners van Daniëlskuil. Hierdie is ons dorp en ons wil sien dat dit floreer,” sluit Smit af.

AfriForum sal voortgaan om hierdie proses dop te hou en die gemeenskap se belange te beskerm.

Soortgelyke plasings