AfriForum wens Nasionale Krugerwildtuin geluk met 100 jaar
Die Nasionale Krugerwildtuin is vandeesweek 100 jaar oud en AfriForum het dié nasionale park met die reusemylpaal gelukgewens. Die park is ’n trekpleister vir plaaslike en internasionale toeriste wat die Groot Vyf, Klein Vyf en die res van dié park se ryke fauna en flora ten volle wil beleef. AfriForum het al telkens ingegryp om dié gewilde park se erfenis te bewaar. Verlede jaar het die burgerregteorganisasie onder meer geveg vir die behoud van die park se naam en sy stryd voortgesit om ’n mynaansoek op die park se voorstoep te stuit.
Maar hoe het dié park, wat jaarliks bykans 2 miljoen besoekers lok, tot stand gekom?
President Paul Kruger het in 1884 die eerste keer president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) geword en kort daarna die Volksraad probeer oortuig om ’n gebied in die republiek vir bewaring af te baken. Die raad was nie inskiklik nie, maar in 1894 kon hy hulle wel oortuig om die Pongolareservaat te proklameer waar jag verbied is. Dit was die eerste wildreservaat in Afrika. Hierna het die Sabiereservaat in 1898 gevolg. Daar was egter nog nie personeel aangestel om die gebied te bestuur of die boete van £120 of 12 maande tronkstraf toe te pas as iemand diere of voëls in die gebied gejag het nie.
Met die bou van die Oosterspoorlyn (tussen Pretoria en Delagoabaai – oftewel die hedendaagse Maputo) het werkers vir die pot gejag en begin om wild in die gebied meer en meer uit te dun. Met die runderpes uitbreking in 1896 en die daaropvolgende Anglo-Boereoorlog (1899–1902) is die wild selfs verder uitgedun.
Te midde van dié omstandighede het ’n majoor en lid van ’n Skotse adellike familie, James Stevenson-Hamilton, na vore getree. Ná die Anglo-Boereoorlog het lord Alfred Milner se regering weer die proklamasie van die Sabiereservaat gepubliseer (sowaar in Nederlands) en kort hierna is die pos van hoofwildbewaarder van dié reservaat aan Stevenson-Hamilton aangebied. Hy het dit aangegryp en op 1 Julie 1902 Afrika se eerste voltydse wildbewaarder geword.
Stevenson-Hamilton het Harry Wolhuter aangestel om hom te help en selfs met groot teenkanting van spoorweë, stropers en boere die grondgebied van die reservaat uitgebrei. Dinge het egter stadig gevorder en wildbewaring het amper tydens die Eerste Wêreldoorlog tot stilstand gekom. Die nuwe minister van Lande, Piet Grobler, was nie net simpatiek teenoor wildbewaring nie, maar ook ’n kleinneef van Paul Kruger en op 31 Mei 1926 is die Wet op Nasionale Parke ingedien. Dit is met toejuiging aanvaar. Die naam Nasionale Krugerwildtuin, wat reeds in 1920 die eerste keer genoem is, is vir die reservaat aanvaar.

Ondanks dié kleurvolle geskiedenis, het die Krugerwildtuin al voor vele bestaansuitdagings te staan gekom. In hierdie stadium is die planne vir die ontwikkeling van ’n steenkoolmyn in die gebied langs die wildtuin een van die grootste uitdagings wat dié park te bowe moet kom – en AfriForum veg saam om dié ontwikkeling teen te staan.
Aanslae op die voortbestaan van die Krugerwildtuin
Volgens Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake, is die Nasionale Krugerwildtuin ’n belangrike baken wat nougesette omgewingsbewaring vereis. Daarom beveg die burgerregteorganisasie al nagenoeg agt jaar lank aansoeke vir die oprigting van ’n steenkoolmyn reg suid van die wildtuin. Die organisasie hou vol dat ’n myn in die omgewing van die wildtuin ongekende skade aan die omgewing sal aanrig.
Benewens dié bedreiging, voer AfriForum ook gereelde watertoetse uit om die gehalte van water in die dorpe en gebiede rondom die wildtuin te moniteer en die risiko’s van besoedeling in die wildtuin te bepaal.
Nadat die Economic Freedom Fighters (EFF) verlede jaar gepoog het om die naam van die Nasionale Krugerwildtuin te laat verander, het AfriForum ’n veldtog van stapel gestuur en met die ondersteuning van die publiek ’n stokkie voor hierdie plan gesteek.
“Vir elke Afrikaner is die Krugerwildtuin ’n plek wat hom na aan die hart lê. Dit is vir ons ’n betekenisvolle plek met ’n ryke geskiedenis en dit is ons verantwoordelikheid om só ’n spesiale plek te bewaar,” sê De Klerk.
Alana Bailey, AfriForum se hoof vir Kultuursake, sluit by De Klerk aan. “Die Wildtuin is uniek – nie net wat die fauna en flora betref nie, maar ook vir die herinneringe wat dit vir soveel van ons inhou en die besondere geskiedenis daarvan as pionierterrein van bewaring in die Suidelike Halfrond. Baie geluk en voorspoed vir die volgende 100 jaar!”



