Chrissiesmeer-tak verwyder 43 sakke vol vullis
AfriForum se Ermelo- en Chrissiesmeer-tak het behoorlik gewoeker in Chrissiesmeer gedurende Januarie. Die tak het oudergewoonte weekliks die asblikke in die dorp gediens en die vullis verwyder.
Daar is gedurende Januarie 43 sakke vullis uit hierdie asblikke verwyder – die asblikke is op verskeie punte in die dorp geplaas. Hierdie projek is van stapel gestuur aangesien die dorp nie genoeg asblikke gehad het nie en vinnig vuil geword het.
Die tak het ook gras gesny in die dorp asook die N17 wat deur die dorp loop. Die totale oppervlakte wat skoongesny moes word beloop ongeveer 15 000 m2. Die dorp is byna vergete gelaat deur die Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit en dienste soos grassny en skoonmaak word nie meer verrig nie.
“As AfriForum het ons besluit ons kan nie meer agteroorsit en kyk hoe die dorp verval nie. Eenvoudige projekte soos hierdie maak ’n reuseverskil en ons dorp is skoner en netjieser as gevolg van hierdie werk,” sê Millicent van den Heever, leier van die Chrissiesmeer-buurtwag.