|

Centurion-buurtwag help veiliger gemeenskap skep terwyl SAPD slaplê

Terwyl die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) toenemend onsekerheid by gemeenskappe meebring oor dié mag se vermoë om buurte te beveilig, het AfriForum se Centurion-buurtwag die afgelope naweek ’n omvattende veiligheidsoperasie van stapel gestuur. Hiertydens is verskeie sigbaarheidspatrollies gery om die gemeenskap van Centurion teen kwaaddoeners te beskerm.

Die jongste rondte patrollies vorm deel van dié AfriForum-buurtwag – wat hierdie jaar reeds sewe soortgelyke operasies suksesvol uitgevoer het – se deurlopende pogings om veiligheidsgevare wat inwoners daagliks in die gesig staar, aan te pak.

Sedert Januarie het die AfriForum Centurion-buurtwag reeds:

  • 432 patrollies gery;
  • 1 162 ure aan patrollies bestee; en
  • 10 919 km deur Centurion en omliggende woonbuurte afgelê tydens patrollies.

“Hierdie onvermoeidheid getuig van ’n gemeenskap en burgerlike organisasie wat weier om in vrees te leef, maar besluit om hul veiligheid in hul eie hande te neem,” sê Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

In kontras met dié gemeenskapsgedrewenheid skets die SAPD opnuut ’n ontstellende prentjie van staatsverval. Luidens onlangse mediaberigte staan honderde SAPD-voertuie in Gauteng in onbruik weens ’n tekort aan tegnici. Hersteltye op dié voertuie duur soms tot ’n jaar. Dit terwyl kriminele elemente vrye teuels het.

“Die verval van staatsinstellings, veral lewensbelangrike instellings soos die SAPD, dwing gemeenskappe om self oplossings te skep. Die Centurion-buurtwag is ’n skitterende voorbeeld van wat moontlik is wanneer gemeenskappe opstaan en eienaarskap neem. Ons kan nie wag vir staatshulp nie, ons sal self,” sê Roodt.

AfriForum, met sy landswye netwerk van 177 aktiewe buurtwagte, is ’n toonaangewende burgerlike teenvoeter vir kriminaliteit. Deur strategiese opleiding, operasionele gereedheid en sterk gemeenskapstrukture bou AfriForum aan vry, veilig en voorspoedige gemeenskappe regoor Suid-Afrika. Gemeenskapsveiligheid kan bloot nie aan die staat toevertrou word nie, daarom moet gemeenskappe self verantwoordelikheid begin neem.

“Deur deel te word van AfriForum se veiligheidstrukture kry gemeenskappe die geleentheid om topklas opleiding, regsdekking en operasionele ondersteuning te ontvang en sodoende buurte te help beveilig. Ons nooi elke Pretorianer, buurtwag en onderneming uit om deel van die oplossing te wees,” sluit Roodt af.

Sluit vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag aan. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings