|

Brutale plaasaanval beklemtoon weereens erns van dié misdade

’n Wreedaardige aanval op ’n boer van Musina en sy gesin beklemtoon weereens waarom dié misdaad ook as ’n prioriteitsmisdaad verklaar moet word en die nodige aandag vanaf die owerhede moet ontvang. Die boer, Natie Vos, en sy gesin is in die vroeë oggendure van 8 Januarie in hul plaashuis aangeval deur vyf gewapende aanvallers.

Vos is ernstig aangerand met ’n hamer en ander stomp voorwerpe, wat ernstige kopbeserings en inwendige bloeding veroorsaak het. Vos is ’n lid van die AfriForum-buurtwag in Musina. AfriForum het onmiddellik reageer deur reëlings te tref vir sy vervoer na die Polokwane Netcare-traumaeenheid. Sy vrou het ook ’n kopwond opgedoen, terwyl die kinders fisies aangerand en vasgebind is – wat almal in die gesin ernstig getraumatiseer het.

Die gesin is van hul werksvoertuig en ses vuurwapens beroof.

Danksy die vinnige optrede en puik samewerking van die Musina-veiligheidsgemeenskap is die voertuig en vuurwapens vinnig opgespoor. Die verdagtes het egter daarin geslaag om te ontsnap. ’n Omvattende opvolgoperasie, wat ’n spoorsnyspan en lugsteun ingesluit het, is onmiddellik van stapel gestuur, maar ongelukkig is die spore in harde terrein verloor.

Die veiligheidsgemeenskap, wat insluit paramedikus Dries Van der Walt, Freek Clifford, sowel as organisasies soos Kawia Rural Anti-Poaching, Pro Truck Sekuriteit, Werda Sekuriteit, MTR Sekuriteit, Hanley Wildvangdienste, Linton, Musina-Suid en Tshipise Plaaswagte, Mopanie Veiligheidsblok, Musina GPF, SAPD-taakspan, SAPD Musina en AfriForum, het almal saamgewerk om die toneel te beveilig, die beseerdes te ontruim en die spoedige terugvind van die gesteelde goedere moontlik te maak.

AfriForum het sy dank en waardering uitgespreek teenoor al die rolspelers wat saamgewerk het om die voertuig en vuurwapens op te spoor.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder oor Gemeenskapsveiligheid, is gemeenskapsbetrokkenheid van kardinale belang in die stryd teen misdaad. “Hierdie voorval bewys dat wanneer gemeenskappe en veiligheidsnetwerke saamwerk, suksesse behaal kan word. Ons wil ook ’n duidelike boodskap aan misdadigers stuur: Ons sal nie ophou om julle te soek en voor die gereg te bring nie. Plaasaanvallers sal nie ongestraf bly nie.”

AfriForum en die breër gemeenskap bly verbind tot die stryd teen plaasaanvalle en om gemeenskappe te help beveilig. Die plaaslike AfriForum veiligheidstruktuur ondersoek steeds inligting wat kan help om die aanvallers vas te trek.

Soortgelyke plasings