Bizos R100 000 beboet omdat hy sy vrou geslaan en haar ribbes gebreek het
Die vonnisoplegging van Alexi Bizos (63) stuur ’n sterk boodskap aan oortreders van geslagsgebaseerde geweld dat AfriForum se privaatvervolgingseenheid onverpoosd sal baklei vir die slagoffers van hierdie misdaadplaag. Die Landdroshof in Johannesburg het Bizos, seun van die ontslape stryder vir menseregte George Bizos, vandag ’n boete van R100 000 of een jaar tronkstraf opgelê; ses maande korrektiewe toesig, wat gemeenskapsdiens van 20 uur per maand by skuilings vir mishandelde vroue insluit.
Die eenheid het Bizos se eksvrou, Monique van Oosterhout, verteenwoordig. Meer as nege jaar nadat hy Van Oosterhout by hul huis in Johannesburg geslaan het, is Bizos verlede jaar skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer. Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het die verhoor in Januarie 2020 begin, nadat hy die saak in 2018 aangepak het.
Landdros Tshepo Twala het gesê dat Bizos geen berou getoon het nie en dat hy versuim het om die onregverdigheid van sy optrede te erken. Twala het verder aangevoer dat die beskuldigde geen insig getoon het in die misdaad wat hy gepleeg het nie en ook geen erkenning vir die impak wat dit op Van Oosterhout gehad het nie. Twala het bygevoeg dat gesinsgeweld ’n veels te algemene misdaadplaag is, wat ’n swaar straf van die oortreders vereis. “Jy kan dit nie ignoreer dat hierdie ’n kwesbare vrou was wat in die veiligheid van haar eie huis was toe sy aangerand is nie. Geslagsgebaseerde geweld gee die oortreders mag. In hierdie geval het die beskuldigde die klaagster aangerand omdat hy haar bevraagteken het en sy gesag ondermyn het,” het hy gesê.
Bizos is tronkstraf weens sy ouderdom gespaar en omdat dit sy eerste oortreding was.
Van Oosterhout was verlig dat die saak uiteindelik verby is. “Ek wil AfriForum bedank vir hul deursettingsvermoë en volgehoue ondersteuning. Nie net vir my nie, maar vir alle vroue.”
Volgens Nel is die vonnis gepas. “Hierdie private vervolging, die skuldigbevinding en vonnis stuur ’n duidelike boodskap aan vroue om hul stemme te laat hoor, om nie geweld teen hulle te aanvaar nie, want iemand sal na hulle luister. Alhoewel die strafregstelsel gefaal het, moet vroue nie aanvaar dat hulle slagoffers is nie. Die hof het sy rol wat dit speel om hierdie misdaadplaag te beveg, erken met vonnisse wat die erns van die misdade weerspieël en as afskrikmiddel dien,” het Nel gesê.
Die eenheid het ’n kostebevel-aansoek teen Bizos en die Nasionale Vervolgingsgesag ingedien om die koste van die private vervolging te dek. Die saak is tot 28 Maart uitgestel vir die uitspraak.