Bethal Trots-inisiatief verbeter dorp en inwoners se veiligheid
AfriForum se Bethal-tak het in Junie verskeie projekte voltooi as deel van die Bethal Trots-inisiatief wat AfriForum vroeër vanjaar van stapel gestuur het.
Die doelwit van die inisiatief is om die dorp skoon en netjies te maak en hierdeur die gemeenskap se trots vir hul dorp aan te wakker. Die projek het reeds goeie momentum met verskeie ondernemings wat ingekoop het en AfriForum hiermee ondersteun. Die projek word per gemiddeld 10 dae per maand deurgevoer en die verskille is oral sigbaar waar die buurtspan werk.
Die span het in Junie vir die laaste keer hierdie winter die gras langs die N17, wat deur die dorp gaan, gesny. Hierdie belangrike hoofweg skep besoekers en motoriste se eerste indrukke van die dorp. Dit is ook noodsaaklik vir voetgangers se veiligheid dat die gras langs die N17 gesny word.
“Dit is belangrik dat ons mense se trots in hul omgewing herstel. Die inwoners begin maar die verval en swak dienslewering aanvaar, want hulle word stadig maar seker gewoond daaraan en laat sak hul standaarde om aan te pas,” sê Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Hoëveld.
Die buurtspan het ook die gras voor die plaaslike dierebeskermingsvereniging (DBV) in Jabulani Selepi-straat gesny. Hierdie area word al lank deur AfriForum se Bethal-tak netjies gehou. Die gras om die Nestlè-brug, sowel as die gedeelte bo die brug op in Malherbestraat, is ook gesny. Dit is ook een van die belangrikste deurgange vir die inwoners van Bethal met honderde voertuie wat uurliks daar verbyry.
AfriForum se Bethal-tak het ook ’n brandstrook om die DBV-perseel gesny. Die brandstrook was nog nie eers ’n week klaar gesny nie toe steek vandale die groot veld om die perseel aan die brand. Die brandstrook het egter sy werk gedoen en verseker dat die DBV se eiendom en die diere veilig is. Vorige jare was brande om die DBV egter ’n probleem en gemeenskapslede moes dringend planne beraam om die DBV se eiendom te beskerm. Die inisiatief sal volhoubaar aangeneem word sodat die probleem nie meer voorkom nie.
Intussen is daar voortgegaan om die gedeelte in Du Plooystraat, tussen die Silwerjare Tehuis en die Spar-winkelsentrum, skoon te maak. Slegs sowat 50 meter van die pad was met plante toegegroei, maar die hoeveelheid werk was ongelooflik baie. Gras en bosse het baie hoog gestaan en ’n veiligheidsrisiko vir voetgangers ingehou. Baie van die bejaardes in die tehuis maak van hierdie roete gebruik om inkopies by Spar te doen.
“Hierdie inisiatief verseker ook mense se veiligheid op verskeie maniere. Dit is onaanvaarbaar dat mense en eiendomme blootgestel word aan verskeie gevare en dit alles weens die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit se onvermoë om hul werk te doen. Ons neem beheer van ons omgewing en sal self ons dorp herstel en in stand hou,” sluit Bekker af.
Ondersteun AfriForum se Bethal-tak: Besoek www.wordlid.co.za.
