Bethal kry nuwe baadjie danksy AfriForum se opknappings
AfriForum se Bethal-tak het nie gras onder hul voete laat groei gedurende Maart nie. Dié tak het ’n verskeidenheid skoonmaakprojekte voortgesit om seker te maak dat Bethal goed onderhou word.
Die tak het verskeie areas in Bethal skoongesny en meer as vier vragte gras weggery. Hierdie areas sluit die gras al langs die N17 in, die gras om die brug in Malherbestraat, waar die Nestlè-fabriek eens was, die area voor die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) en ’n gedeelte van die Bethal-polisiestasie.
Verder het die tak ook Clerqstraat in die middedorp opgeruim. Die straat is skoongevee en onkruid wat op die sypaadjies groei, is verwyder. Vullis is opgetel, terwyl lamppale, kragbokse en stopstrate skoongemaak is. Die stopstrate is ook afgeskuur en oorgeverf.
Dié projek word voortdurend uitgebrei om nog dele van Bethal in te sluit. Die tak beweeg eersdaags in Du Plooystraat in om ook dié straat se sypaadjies skoon te maak en padtekens op te knap.
“Hierdie projek is besig om momentum te ontwikkel met verskeie ondernemings wat agter die AfriForum-tak inspring en help. Inwoners is moeg vir die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit se swak dienslewering en begin nou AfriForum te ondersteun – want selfdoen is immers beter as niksdoen,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.



Benewens al die werk wat die tak maandeliks aan die sypaadjies van Bethal doen, het hy ook verlede maand meer as 400 sakke teer gebruik om slaggate te herstel. Die strate wat herstel is sluit Malherbestraat tussen Simon- en Wichtstraat in, asook dele van Wichtstraat tussen die N17 en Hoërskool Hoogenhout se hoofhek. Daar is ook slaggate op Kleijnhansstraat tussen die N17 en Malherbestraat gevul.
AfriForum se Bethal-tak het danksy die skenking van teer van die inwoners op dié strate, etlike slaggate herstel. Die tak beplan om eersdaags die res van Kleijnhansstraat te voltooi sodat dié straat ook sonder slaggate kan wees.
Besoek www.wordlid.co.za om AfriForum se Bethal-tak in al sy bestaande en toekomstige projekte by te staan of direk by die tak in te skakel en betrokke te raak.