|

Beter leefomgewing vir hele Christiana ná AfriForum onkruid, vullis verwyder

Die AfriForum-tak in Christiana het die laaste drie weke onverpoos gewerk om dié dorp skoon te kry én ’n beter leefomgewing vir die hele gemeenskap te skep.

Die tak het by meer as vyf verkeerseilande in die dorp aangegaan en vullis daar opgetel en verwyder. Daar is onder meer dooie palmtakke, onkruid en allerlei soorte rommel verwyder. Van die onkruid wat aan straathoeke gegroei het, is met gif behandel, uitgewerk en weggery. Hierdie onkruid was op plekke so dig dat dit motoriste se sigbaarheid beïnvloed het. Meer as twee ton vullis is op die ou end verwyder. 

Die AfriForum Jeug-tak in Christiana was ook by hierdie projek betrokke en het verskeie soorte plante op die verkeerseilande geplant om dit op te kikker. Verder het die tak saam met die jeug ’n deel van Forsmanstraat herstel wat ingeval het ná onlangse vloede. Dié pad is weer rybaar ná AfriForum se ingryping.

“AfriForum se Christiana-tak het besluit om self in te spring en die dorp skoner en veiliger te maak. Projekte soos hierdie maak ’n wesenlike verskil in die gemeenskap en tesame met ’n aktiewe Jeug-tak wat ywerig is om by projekte betrokke te raak, kan hierdie dorp aansienlik verbeter word,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland..

Tien lede van die AfriForum-tak se buurtwag het ook opleiding ontvang sodat hulle doelgerig kan optree in krisissituasies. AfriForum sal voortgaan om opleiding aan sy patroleerders te bied om hul toe te rus met die nodige kennis om gemeenskappe te beveilig.

Die AfriForum-tak in Christiana bedank graag elke individu wat hierdie projek moontlik gemaak het. Die tak beplan om nog verskeie projekte deur die jaar aan te pak en nooi graag die gemeenskap en die jeug uit om aktief betrokke te raak. Jy kan help om jóú omgewing te verbeter en te beveilig. Klik hier vir meer inligting.

Soortgelyke plasings