Beskerming van eiendom teen onregmatige grondgrype nou noodsaaklik – AfriForum
AfriForum het vandag weereens die belangrikheid van die beskerming van eiendomsreg beklemtoon met die hervrystelling van sy omvattende gids oor onregmatige grondbesetting. Dié gids rus grondeienaars toe met noodsaaklike kennis en regsmiddele oor hoe om grondgrype te voorkom en daarop te reageer. AfriForum benadruk hiermee die noodsaaklikheid van kennis rakende die reg op die beskerming van eiendom.
Onwettige grondbesettings hou aansienlike finansiële en wetlike uitdagings in wat proaktiewe maatreëls noodsaak. AfriForum se gids oor onregmatige grondbesetting bied praktiese raad en voorkomende maatreëls wat getref kan word om onwettige besetting af te weer, soos die beveiliging van eiendomsgrense en die handhawing van deurlopende toesig van die grond. Die regsremedie vir die hantering van betreding en onregmatige okkupasie word ook, in ooreenstemming met die Suid-Afrikaanse reg, in die gids bespreek.
“AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid is bekommerd dat die ondertekening van die Onteieningswet die onregmatige besetting van privaat grond kan aanmoedig,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid. “Dit is daarom noodsaaklik vir grondeienaars en persone in beheer van eiendom om die nodige maatreëls te tref om potensiële, onregmatige besetting van grond te ontmoedig.”
Volgens Broodryk het enkele voorvalle van onwettige grondbesetting, soos dié wat op privaat eiendom langs die Matlalapad buite Seshego in Limpopo aangemeld is, reeds sedert die einde van Januarie opgevlam. In sekere gevalle voer grondbesetters selfs aan dat die nuut ondertekende Onteieningswet hul die reg tot besetting van die grond gee.
“Onregmatige grondbesetting skend die fundamentele regte van grondeienaars,” benadruk Broodryk. “In die lig van die huidige onstuimigheid rakende die Onteieningswet en die moontlike misbruik daarvan deur onwettige besetting, bied hierdie gids die nodige hulpmiddels aan gemeenskappe om beslissend en binne die raamwerk van die wet op te tree én hul eiendom doeltreffend te beskerm.”
AfriForum doen ’n beroep op alle grondeienaars om hulself met inhoud van die gids te vergewis en by gemeenskapsveiligheidstrukture, soos ’n AfriForum-buurtwag, aan te sluit om hulself teen onregmatige grondgrype te versterk. Die volledige gids is hier beskikbaar.