Beskerm eers bestaande erfenisterreine vóór oproep vir nuwes, sê AfriForum
Klankgreep: Marais de Vaal (Afrikaans)
Soundbite: Marais de Vaal (English)
Die regering poog opnuut om sy beeld te poets deur die departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing se jongste kennisgewing (GN 6131 van 2025) waarin voorstelle gevra word vir die benoeming van nuwe Wêrelderfenisterreine. Volgens AfriForum is hierdie proses tydmors as die regering nie eens in staat is om die bestaande erfenisterreine behoorlik te onderhou nie én toelaat dat die land se natuurlike en kulturele erfenis agterweë bly.
Die toestand van sommige van die bestaande Wêrelderfenisterreine laat veel te wense oor weens die enorme druk wat op dié terreine is. Erfenisterreine soos die Vredefortkoepel, iSimangaliso, Robbeneiland, Mapungubwe en die Richtersveld staar al vir jare lank vele bedreigings in die gesig — van perlemoenstropers wat verwoesting saai tot onwettige ontwikkeling en mynbou, swak onderhoude infrastruktuur en bestuursprobleme. In talle gevalle is die regering se ingryping óf ontoereikend óf geheel en al afwesig.
“Daar is min rede om nuwe terreine vir Wêrelderfenisstatus te benoem as die huidige terreine reeds agteruitgaan. Die regering wil die indruk skep dat vooruitgang gemaak word, maar dit word nie deur daadwerklike optrede ondersteun nie,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.
“’n Swak onderhoude terrein is nie net ’n verleentheid nie, maar skep ook ’n swak beeld van ons natuurlike habitat en land as geheel. Owerhede kondig graag met groot geskal aan wanneer terreine geproklameer word, maar wanneer probleme met die bestuur en onderhoud daarvan onder hulle aandag gebring word, heers daar stilte of word die aandag afgelei met oefeninge soos hierdie oproep om meer terreine aan te wys,” voeg Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, by.
AfriForum bevraagteken ook of Wêrelderfenisstatus op sigself ’n effektiewe beskermingsmeganisme vir Suid-Afrikaanse terreine is. Hoewel dit internasionaal aandag trek, vervang dit nie die noodsaaklikheid van plaaslike bestuur, wetstoepassing en gemeenskapsbetrokkenheid nie – dikwels die belangrikste bestanddele vir blywende bewaring.
“Wêrelderfenisstatus moet nie verwar word met die sekerheid van sekuriteit nie – dit is bloot ’n voorwendsel. Wat ’n terrein werklik beskerm, is nie sy naam op ’n lys nie, maar hoe dit op grondvlak bestuur en bewaar word. As dit ontbreek, het hierdie simboliese status geen werklike waarde nie,” sê De Vaal.
AfriForum is van mening dat die langtermynbewaring van Suid-Afrika se natuurlike en kulturele erfenis nie deur die regering se beloftes ingelig moet word nie, maar deur gemeenskapsinisiatiewe wat ’n daadwerklike verskil teweegbring. Talle AfriForum-takke landwyd bewaar reeds vir jare lank self die land se unieke natuur- en kultuurhistoriese nalatenskap.