Bergview-saak: Privaatvervolgingseenheid tree op ná NVG weier om Gade te vervolg
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aangedui dat Fundile Gade, die Oos-Kaapse LUR vir Onderwys, nie vervolg sal word nadat hy valslik ’n onskuldige skoolhoof as ’n verdagte in ’n verkragting identifiseer het. Die NVG het AfriForum se privaatvervolgingseenheid op 5 November meegedeel dat die vervolgingsgesag nie hierdie saak gaan vervolg nie. Klagtes van crimen injuria, intimidasie en die oortreding van die Wet op Kubermisdade (19 van 2000) staar Gade in die gesig ná hy Jaco Pieterse, voormalige skoolhoof van Bergview College, valslik in die openbaar as ’n verdagte in die verkragting van ’n minderjarige identifiseer het.
Pieterse, wat deur die privaatvervolgingseenheid verteenwoordig word, was die teiken van ’n volgehoue smeerveldtog wat sy waardigheid misken het, sy reputasie skade berokken het, hom en sy familie gedwing het om in skuiling in te gaan weens doodsdreigemente, en op die ou end hom en sy vrou hul werke gekos het. Dié smeerveldtog het gevolg op bewerings van die minderjarige dogter se ma dat haar dogter in Oktober 2024 by die skool in Matatiele verkrag is. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het Pieterse egter nooit as verdagte beskou nie.
Die saak is ondersoek en die NVG het in November 2024 besluit om nie te vervolg nie aangesien daar nie genoegsame bewyse is om die aantygings te staaf nie. Ten spyte hiervan het ’n sosialemediaveldtog in Maart vanjaar die media se aandag getrek en die disinformasie is verder aangevuur met Pieterse as die primêre teiken. Te midde van die verontwaardiging op sosiale media het Gade besluit om die skool te deregistreer en op 30 Maart aanstootlike opmerkings oor Pieterse te maak gedurende ’n onderhoud op Newzroom Africa.
In Junie vanjaar het die privaatvervolgingseenheid Pieterse ondersteun toe hy strafregtelike klagtes teen Gade, EFF-leier Julius Malema, en die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula gelê het. Die NVG het nog nie hulle besluit oor die laasgenoemde twee klagtes deurgegee nie.
Die kantoor van die Oos-Kaapse Adjunk-Direkteur van Openbare Vervolgings, wat die besluit gemaak het om Gade nie te vervolg nie, het in korrespondensie gesê dat die privaatvervolgingseenheid ’n klag by die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings kan indien sou hulle ongelukkig wees met die besluit.
Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het in reaksie hierop gesê dat die privaatvervolgingseenheid hierdie besluit as irrasioneel beskou en dat die eenheid Pieterse aangeraai het om aansoek te doen om ’n nolle prosequi-sertifikaat sodat hierdie aangeleentheid privaat vervolg kan word sodra die eenheid die inhoud van die SAPD se dossier onder oë gehad het.
Volgens Nel wil dit voorkom of die aanklaer wat die besluit gemaak het, nie Gade se onderhoud gekyk het nie. “Ons bly oorweldig oortuig daarvan dat Gade duidelik en sonder twyfel na ons kliënt verwys het as ’n verdagte in die verkragting van ’n minderjarige – ’n blatante valse openbare aantyging, aangesien Pieterse beslis nie ’n verdagte in so beweerde oortreding was nie. Die irrasionaliteit van hierdie besluit is merkwaardig.”
Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê sedert Pieterse strafregtelike klagtes ingedien het, het addisionele inligting na vore gekom wat die saak teen Gade, Malema en Mbalula versterk. “In die maande sedert Pieterse die strafregtelike klagtes ingedien het, het die polisie en ministeries van justisie aan die parlement gesê dat die SAPD op 4 Augustus 2025 ’n volledig ondersoekte dossier aan die NVG oorhandig het en dat die NVG geweier het om te vervolg weens onvoldoende bewyse.”
“In verskeie reaksies op vrae van LP’s het owerhede bevestig dat die kind in Oktober 2024, ná haar ma die saak by die polisie aangemeld het, deur al die nodige prosesse geneem is by die Thuthuzela sorgsentrum en deur minstens drie maatskaplike werkers gesien is. Dit is belangrik om te noem dat die NVG intussen bevestig het dat die kind volgehou het dat sy hardlywig is en nie verkrag of seksueel aangerand is nie, en dat daar geen bewyse was dat die kind gepenetreer is nie. Trouens, die polisie het nooit ’n persoon as verdagte identifiseer nie aangesien daar geen bewyse was om die bewering dat die kind verkrag is te staaf nie. AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal ’n sterk boodskap uitstuur dat daar gevolge sal wees wanneer mense valslik van misdade beskuldig word,” sê Bateman.
Die privaatvervolgingseenheid bestudeer die dossier en sal mettertyd ’n amptelike aansoek om ’n nolle prosequi-sertifikaat indien.



