Begroting 3.0: AfriForum verwelkom besnoeiings aan staatsbesteding, benadruk dat belastinglas steeds te hoog is
AfriForum beskou die begrotingsrede wat die minister van Finansies, Enoch Godongwana, vandag in die Nasionale Vergadering gelewer het, as ’n tree in die regte rigting. Die organisasie ag veral die aankondiging van enkele besnoeiings aan staatsbesteding as ’n gunstige verwikkeling, maar wys daarop dat die hoë belastingkoerse steeds ekonomiese groei verhinder en dat verdere besnoeiing aan staatsuitgawes geïmplementeer moet word.
Alhoewel belasting op toegevoegde waarde (BTW) nie verhoog is nie, is persoonlike inkomstebelasting in reële terme steeds hoër as ’n jaar gelede, aangesien belastingkerwe nie ooreenkomstig inflasie aangepas is nie. Die verhoogde brandstofheffing gaan ook bykomende druk op ondernemings en verbruikers plaas. AfriForum benadruk dat die kabinet en verskeie staatsdepartemente nog te groot is en ’n onaanvaarbare hoë salarisrekening meebring. Fiskale beleid sal ook voortaan daarop gerig moet wees om staatsafhanklikheid te verminder en die belastingbasis te vergroot.
Volgens Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder, is dit bemoedigend om te sien dat die ANC, onder die regte hoeveelheid druk, gedwing kan word om van koers te verander en dat die party se ideologie nie meer ongehinderd in die begroting uitdrukking kan vind nie. “Vandag se begroting het verskeie tekortkominge, maar dit is ten minste nie meer ’n volkome ANC-begroting nie en dit gee ons moed,” sê Boshoff.
Sommige maniere waarop regeringsuitgawes in die toekoms besnoei kan word, sluit in: die verkleining van die kabinet en staatsdepartemente; die vermindering van salarisse en ander voordele aan hooggeplaaste staatsamptenare; die afskaffing van talle regeringsadvertensieveldtogte; die besnoeiing van luukshede wat reis en spyseniering betref; en die privatisering van staatsinstellings.
AfriForum kritiseer ook die regering se swak prestasie ten opsigte van dienslewering en voer aan dat belastingbetalers nie die dienste ontvang waarop hulle geregtig is in ruil vir hul belastingbetalings nie. “AfriForum-takke moet oor die hele Suid-Afrika heen inspring om self infrastruktuur te herstel en dienste te lewer waarvoor daar eintlik reeds deur middel van belasting betaal is. Suid-Afrika het nie net ’n goeie begroting nodig nie, maar ook goeie dienslewering wat daaruit moet voortvloei,” sluit Boshoff af.