|

Albertinia-plaaswag help met 13 arrestasies en R8 000 se boetes tydens Oparasie Basadi

AfriForum se Albertinia-plaaswag het op 15 en 16 Augustus 13 arrestasies in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) uitgevoer tydens Operasie Basadi – ’n landswye operasie deur die SAPD om bewusmaking van geweld teen vroue en kinders te bevorder.

Die Albertinia-plaaswag het saam met die plaaslike SAPD, die provinsiale verkeerspolisie, die brandweer, die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en ander buurtwagte gewerk tydens hierdie veldtog.

Gedurende die operasie is elf onwettige immigrante in hegtenis geneem, een persoon is vir die besit van vermeende gesteelde koper gearresteer en nog een is vir die besit van ’n gevaarlike wapen aangekeer. Verder is daar ook drie voertuigbeheerpunte gehou, waartydens 65 voertuie nagegaan en boetes ter waarde van R8 000 uitgeskryf is. Daar is ook verskeie spazawinkels en ’n skrootwerfonderneming deursoek.

“Dit is moontlik om ’n verskil in jou gemeenskap te maak. Elke persoon kan ’n bydrae maak al is dit hoe klein – dit is nou tyd om jou deel te doen. Hierdie operasie is ’n voorbeeld van hoe samewerking tussen rolspelers gemeenskappe weerbaar maak,” sê Nita Wessels van die Albertinia-plaaswag.

Raak vandag nog by jou naaste AfriForum-plaaswag of -buurtwag betrokke. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel hom by 081 216 9602.

Soortgelyke plasings