Afrikaanse kunste in die kollig tydens Aardklop se programbekendstelling
AfriForum Teater het gisteraand (12 Junie) gasheer gespeel vir die programbekendstelling van vanjaar se Momentum Aardklop Nasionale Kunstefees. Die fees vind vanjaar van 7 tot 12 Oktober in Potchefstroom plaas en beloof om weer ’n hoogtepunt op die Afrikaanse kunstekalender te wees.
Dit is vir AfriForum Teater telkens ’n groot voorreg om die Aardklop-span en hul gaste by die teater te verwelkom. AfriForum Teater se betrokkenheid by Aardklop strek terug na 2022, toe die fees vir die eerste keer in sy geskiedenis op drie verskillende plekke plaasgevind het: Potchefstroom, Pretoria en Linden (Johannesburg).
Aardklop is in 1998 gestig en het oor die jare gegroei tot een van Suid-Afrika se grootste en mees invloedryke kunstefeeste. Wat as ’n plaaslike inisiatief begin het, het ’n nasionale platform geword wat Afrikaanse en Suid-Afrikaanse kultuur, musiek, drama, dans en visuele kunste vier. Die fees het ’n reputasie opgebou vir die bekendstelling van vars talent en baanbrekerswerk, terwyl dit ook ’n tuiste bied vir gevestigde kunstenaars.
Vanjaar se program weerspieël juis hierdie balans tussen nuut en geliefd. Feesgangers kan uitsien na debuutproduksies soos Charl du Plessis se Surf & Turf, visuele kuns deur Alex Sandro Trapani getiteld Formae Terrae en The Drop that Contained the Sea, ’n klassieke stuk wat deur NWU Kunste vervaardig word met die NWU Simfonieorkes en kore, onder leiding van André Oosthuizen en Kobus Venter. ’n Paar bekende gunstelinge keer ook terug, insluitend ’n Begin, Moord met ’n T en die geliefde Stinkhout.
Verder is AfriForum Teater sedert 2021 betrokke by Pronk Podium, ’n platform wat opkomende kunstenaars die geleentheid gee om hul talent te wys. In 2024 het AfriForum Teater as hoof-venueborg vir Pronk Podium ingetree. Hierdie produksies word ook opgeneem en is beskikbaar op AfriForumTV – nog ’n manier waarop die teater poog om Afrikaanse kunste wyer beskikbaar te stel.
AfriForum Teater is in 2021 gestig in die nadraai van die Covid-19-pandemie, toe die kunste in Suid-Afrika swaar getref is. “Die bevordering van Afrikaanse kunste en kunstenaars sal altyd een van ons kernwaardes bly. Daarom is dit vir ons ’n eer om betrokke te wees by Momentum Aardklop, een van Suid-Afrika se mees gerekende en geliefde kunstefeeste,” sê Marné Jooste, bemarking-en-kommunikasiebeampte van AfriForum Teater.