AfriForum woeker weer om Bethal op te knap
AfriForum se Bethal-tak se hande het gedurende Februarie vir niks verkeerd gestaan nie toe die tyd weer aangebreek het om dele van Bethal se gras te sny. Dié tak moedig sedert verlede maand inwoners, plaaslike ondernemings en selfs skole aan om by sy maandelikse skoonmaakaksies betrokke te raak. Deur die Trots Bethal-projek van stapel te stuur, beoog die burgerregteorganisasie om Bethal weer in die juweel te omskep wat dit eens op ’n tyd was.
Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, sê die projek verseker dat die tak steeds gereeld die gras op sypaadjies sny. Nou word daar óók verskeie ander inisiatiewe saam met plaaslike ondernemings en skole van stapel gestuur om die dorp vir almal te verbeter.
Een van die inisiatiewe behels noue samewerking met die Volkskool Bethal vir Christelike Onderwys (CVO Bethal) om die ingang na die skool (teen die R545) skoon en netjies te maak. Die projek word in fases, óók saam met die Jim Van Tonderskool, aangepak. AfriForum se Bethal-tak het begin deur die gras in die gebied te sny en rommel op te tel. Dit is ook in die beplanning om vullisdromme al langs die pad op te rig en die Bethal-ingangsbord oor te verf.
Die Bethal-tak het verder ook die gras al langs die N17 en by die Bethal-polisiestasie gesny, asook die gras om die brug in Malherbestraat, waar die Nestlè-fabriek eens was, die area voor die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) en om die Midnight-vulstasie. Vrywilligers het ook die spruit voor Bethal Traders self opgeruim.


“Dis ’n teken dat ’n gemeenskap eienaarskap van sy omgewing neem wanneer private individue self om hul ondernemings en woonbuurte begin skoonmaak. Dit is verblydend om te sien dat inwoners bereid is om self die harde werk in te sit en ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap te maak,” sê Bekker.
Die Bethal-tak het ook ekstra werk in die midde dorp aangevat om dié gebied op te knap. Die tak het onder meer ’n deel van Clerqstraat tussen Du Plooy- en Chris Hani-straat skoongemaak. Onkruid wat tussen die plaveisel gegroei het, is met grawe uitgekap en stoptekens is oorgeverf. Die span het ook ongure plakkate en papiere van ligpale verwyder en van kragbokse afgeskraap.


“Wanneer daar ’n trots onder gemeenskappe gekweek word vir hul dorpe en dié individue dan klein veranderinge konsekwent oor tyd aanbring, kan daar die grootste verskil in ’n gebied gemaak word,” sluit Bekker af.
AfriForum se Bethal-tak bly daartoe verbind om Bethal op te knap en sal daarom voortgaan om die dorp stuk-stuk te verbeter. Besoek www.wordlid.co.za om hierby betrokke te raak.