AfriForum wil saam met nuwe minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake werk om munisipaliteite reg te ruk
Gemeenskappe reg oor die land gaan gebuk onder swak munisipale bestuur en die gevolge daarvan, die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake het ’n kritieke rol om hierdie situasie te verbeter. AfriForum het daarom hul samewerking aan die nuut aangestelde minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, aangebied asook verskeie voorstelle gemaak oor hoe munisipale bestuur verbeter kan word.
AfriForum het in ’n skrywe aan Hlabisa versoek dat die volgende aspekte prioritiseer word:
Intervensie in terme van artikel 139 van die Grondwet: Evalueer gereeld die prestasie van munisipaliteite teen gevestigde maatstawwe en aanwysers om areas vir verbetering te identifiseer. Dit is belangrik dat nasionale regering ingryp waar munisipaliteite en provinsiale administrasie misluk.
Verbetering van interregeringsverhoudinge: Fasiliteer samewerking tussen verskillende regeringsvlakke en openbare ondernemings (nasionaal, provinsiaal en plaaslik) om volhoubare en geïntegreerde dienslewering te verseker. Die departement moet ook optree as bemiddelaar in die oplos van konflik en dispute tussen munisipaliteite en ander belanghebbendes, veral met betrekking tot Eskom en Rand Water.
Verbetering van munisipale water- en rioolinfrastruktuur: Baie munisipaliteite sukkel met verouderde en gebrekkige water- en rioolstelsels. Hierdie infrastruktuur probleme moet as ’n top prioriteit hanteer word om ’n waterkrisis in die land te vermy.
Elektrisiteitsverspreiding op munisipale vlak: Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) het ’n verpligting om munisipaliteite te reguleer in hul hoedanigheid as elektrisiteitsverspreidingslisensiehouers.
Volgens Petrus Coetzee, AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake is daar baie munisipaliteite in die land wat nie aan die Elektrisiteitsreguleringswet of hulle lisensievoorwaardes voldoen nie. Ons wil graag hê dat die departement moet ingryp en verseker dat die munisipaliteite hul verpligtinge nakom, sê Petrus Coetzee.”
Finansiële bestuur en toeken van toelaes: Toelaes moet aan munisipaliteite toegeken word om verskeie projekte en bedryfsbehoeftes te ondersteun. Moniteer en ondersteun munisipaliteite in die verbetering van hul finansiële bestuurspraktyke om aanspreeklikheid en doeltreffende gebruik van hulpbronne te verseker. Dit is noodsaaklik dat toelaes doeltreffend aangewend word en dat algemene finansiële bestuur verbeter word. Toegang tot finansiële inligting moet verbeter word om deursigtigheid en aanspreeklikheid te verseker.
“Die minister het die mag om op munisipale vlak in te gryp en ons sal graag wil sien dat hy daardie funksie uitoefen daar waar dit die nodigste is. Ons is ywerig om saam met staatsamptenare, bedryfskenners en gemeenskapsorganisasies te werk om oplossings te vind vir die kwessies wat die doeltreffende funksionering van munisipaliteite kniehalter,” sluit Coetzee af.