AfriForum wens koning Misuzulu geluk met die sukses van die Koninklike Rietdans
AfriForum wens sy majesteit koning Misuzulu geluk met die suksesvolle aanbieding van die jaarlikse Koninklike Rietdans wat by die eMashobeni Koninklike Paleis suid van Pongola in KwaZulu-Natal op 13-14 September aangebied is. Dit was ’n historiese viering wat die positiewe momentum van ’n nuwe era vir die Zoeloe-koninkryk bevestig het aangesien dit die eerste keer is dat dié fees by koning Misuzulu se eMashobeni-paleis gehou is en daar baie werk in ’n kort tyd gedoen moes word om te verseker dat dié viering ’n sukses is.
“Dit is ’n riem onder die hart om te sien dat tradisie, erfenis en kulturele identiteit lewenskragtig en gesond is en ons is bemoedig deur koning Misuzulu se optrede om hierdie kulturele skatte te verdedig, beskerm en uit te bou soos ook bevestig deur die koning se toespraak tydens die viering. Morele herlewing is noodsaaklik vir die welstand van ons samelewing, en ons gee erkenning aan die rol wat hierdie belangrike viering hierin speel. Dit is veral bemoedigend dat die viering ook gedeeltelik selfbefonds was, deur onder andere, vennootskappe. Die enigste manier vir kultuurgemeenskappe om werklik te gedy en hul volle potensiaal te bereik is deur selfstandigheid en selfversorgendheid en ons is bly dat die Zoeloe-koninkryk nog ’n positiewe stap in hierdie verband geneem het met hierdie geleentheid,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.
“Dit was ’n voorreg vir AfriForum om die Koninklike Rietdans as ’n gas van die koning by te woon, dit is ’n voortsetting van die goeie verhoudinge tussen die Zoeloe- en Afrikanerkultuurgemeenskappe wat begin het tydens die bewind van koning Mpande kaSenzangakhona. AfriForum sien uit na verdere samewerking met koning Misuzulu om ’n toekoms vir die kinders van ons onderskeie en ook van al die ander kultuurgemeenskappe hier aan die suidpunt van Afrika te verseker,” sluit Uys af.