AfriForum wens AmaBhele-vereniging geluk met eerste Ndlela KaSompisi-gedenklesing
AfriForum het vandag die Nasionale AmaBhele-vereniging (Amanasso) geluk gewens met die suksesvolle aanbieding van die eerste jaarlikse Ndlela KaSompisi-gedenklesing. Die burgerregteorganisasie het die lesing bygewoon en het ook die hoop uitgespreek dat dié geleentheid in die toekoms ’n belangrike rol in die openbare diskoers in die land sal speel. Dié lesing is gister (1 Junie) in Durban aangebied.
“Dit is verblydend dat die AmaBhele-volk self verantwoordelikheid neem vir die bewaring en uitbouing van hul kulturele identiteit en erfenis deur historiese figure wat ’n belangrike rol in die geskiedenis van hul volk én die land gespeel het, te herdenk. ’n Gesonde kulturele selfbeeld en trots op herkoms is noodsaaklik vir gemeenskappe om te weet dat hulle hul toekoms in hul eie hande hou,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.
AmaBhele van oor die hele land heen het saamgewerk om Amanasso in 1970 tot stand te bring met die doel om AmaBhele-erfenis te bewaar, sosio-ekonomiese uitdagings die hoof te bied en AmaBhele oor die hele Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG)-streek heen te verenig met die oog op vooruitgang.
Die AmaBhele was reeds teen die 18de eeu in die omgewing van die huidige Ladysmith in KwaZulu-Natal gevestig, maar het as gevolg van die konflikte en verskuiwings gedurende die laat 18de en vroeë 19de eeu versprei en hul ook in die teenswoordige Oos-Kaap en Lesotho gevestig.
Ndlela KaSompisi, na wie die nuwe jaarlikse lesingsreeks vernoem is, word as ’n belangrike leier in die geskiedenis van die AmaBhele-volk beskou. Ndlela was die seun van Sompisi KaGuqa wat saam met ’n groep AmaBhele in die Zoeloe-koninkryk gaan woon het. Hier het Ndlela, wat bekend was as ’n dapper kryger, in die 1820’s status in die Zoeloe-koninkryk verkry. Hy is later deur die Zoeloe-koning Dingane as eerste minister en generaal aangestel en was een van die hoofaanvoerders van die Zoeloe-mag tydens die Slag van Bloedrivier. Hy het ook die latere Zoeloe-koning Mpande se lewe gered deur hom te waarsku van ’n komplot van sy (Mpande se) halfbroer, Dingane, om hom te vermoor en ook deur die nederlaag van koning Dingane se mag deur Mpande s’n tydens die Slag van Maqongqo te verseker. Hiermee het Ndlela nie net ’n sleutelrol gespeel om die ondergang van die Zoeloe-koningshuis te verhoed nie, maar ook bygedra om die vestiging van goeie verhoudinge tussen Afrikaners en die Zoeloe-koninkryk tydens die bewind van koning Mpande in die 1840’s moontlik te maak.
Uys beskou sy bywoning van en die geleentheid om ’n paar woorde te spreek by die eerste Ndlela KaSompisi-gedenklesing as ’n geweldige voorreg. “Ons geslag is weer in die bevoorregte posisie dat ons, op die grondslag van wedersydse erkenning en respek, goeie verhoudinge en samewerking tussen die verskillende kultuurgemeenskappe in suidelike Afrika kan vestig. Die netwerk van kultuurgemeenskappe wat hierdeur tot stand kom speel ’n belangrike rol om voorspoedige en vreedsame naasbestaan vir alle gemeenskappe hier aan die suidpunt van Afrika moontlik te maak,” sluit Uys af.