AfriForum wen heffingshofsaak teen Tshwane-metro: Hof beslis heffing ís onwettig
AfriForum het ’n reuseoorwinning vir inwoners van die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit beklink ná die Hooggeregshof in Pretoria vanmiddag die metro se implementering van die sogenaamde stadsreinigingsheffing as onwettig en ongeldig verklaar het. Die heffing is ook met onmiddellike effek ter syde gestel.
Die burgerregteorganisasie het die hof genader om die metro se besluit om dié nuwe verpligte maandelikse heffing van R194,37 (BTW uitgesluit) op nagenoeg 260 000 huishoudings en ondernemings in die metro ter syde te laat stel. AfriForum het aangevoer dat die heffing neerkom op onwettige en onbillike dubbele belasting, veral in gevalle waar inwoners nie enige voordeel trek uit die metro se vullisverwyderingsdiens nie én gedwing word om van privaat diensverskaffers gebruik te maak.
Die hof het die metro vandag gelas om toe te sien dat alle munisipale rekeninge waarop die stadsreinigingsheffing reeds gehef is, in die volgende rekeningsiklus gekrediteer word met die bedrag gelykstaande aan die bedrag wat daarop gehef is. Daarbenewens moet die metro ook die nodige stappe doen om te verseker dat inwoners en ondernemings nie verder vir die stadsreiningsheffing gehef word nie.
Die hof het AfriForum ook gelyk gegee dat die metro nie voldoen het aan die vereistes van artikel 229(1) van die Grondwet of artikel 74(1) van die Wet op Munisipale Stelsels nie en daarom nie ’n belasting, heffing of fooi vir “stadsreiniging” mag hef nie. Die hof het verder AfriForum se locus standi en belangrike rol as kampvegter vir burgerregte bevestig.
“Die uitspraak is ’n belangrike oorwinning in die belang van inwoners en ondernemings wat op ’n onbillike wyse deur die implementering van hierdie heffing geaffekteer is. Dit is ’n duidelike bevestiging van dit wat AfriForum uit die staanspoor oor dié heffing gesê het, naamlik dat die Tshwane-metro se instelling van hierdie heffing onwettig én arbitrêr is,” sê Deidré Steffens, AfriForum se adviseur vir Plaaslikeregeringsake.
Die metro het tydens verlede week se hofverrigtinge gepoog om die heffing te verdedig en aangevoer dat die heffing in die lig van die metro se 2016-tariefbeleid regverdigbaar is. Die metro se regspan kon egter nie dié beleid aan die hof voorlê nie en het selfs erken dat hulle nie die dokument kon opspoor nie. Die hof het dié administratiewe tekortkoming as ernstig beskou.
In sy uitspraak het waarnemende regter George Avvakoumides hom sterk uitgespreek teen die magdom “irrelevante dokumente” en “misleidende argumente” waarop die metro gesteun het. Hy het voorts ook ’n bestrawwende kostebevel aan die metro opgelê.
“Hierdie implementering van hierdie heffing was niks anders as ’n fondsinsamelingsfoefie wat daarop gemik was om jare se swak beplanning en wanbestuur toe te smeer nie. Die hof se beslissing stuur ’n duidelike boodskap dat munisipaliteite ook die wet moet gehoorsaam en dat gemeenskappe gereedstaan om onbillikheid en onwettige optrede te beveg,” sluit Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid, af.