| |

AfriForum weer hof toe oor Tshwane-metro se onwettige heffing

Klankgreep: Arno Roodt (Afrikaans)
Klankgreep: Arno Roodt (Engels)

AfriForum het vandag ’n dringende aansoek ingevolge artikel 18(3) van die Wet op Hoër Howe (10 van 2013)  teen die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit geliasseer om te voorkom dat die metro voortgaan om die omstrede stadsreinigingsheffing op Pretorianers te hef.

Hierdie heffing is op 27 Junie vanjaar deur die Pretoriase Hooggeregshof as onwettig en ongeldig verklaar. Die metro se aansoek om verlof tot appèl is ook (met bestrawwende koste) van die hand gewys.

Nieteenstaande hierdie uitsprake en die hof se duidelike bevel dat die metro die heffing onmiddellik moet staak en Pretorianers se rekeninge moet krediteer, het die metro sedert 1 September 2025 weer begin om die heffing op inwoners se rekeninge te plaas – en dit selfs terugwerkend tot Julie 2025 laat geld. Volgens AfriForum se hofstukke het die metro hiermee openlik ’n hofbevel verontagsaam en die publiek mislei oor die tydlyn en aard van die heffing.

Die Tshwane-metro het egter op 22 September 2025 na die Hoogste Hof van Appèl toe petisioneer en gevolglik is die aanvanklike hofbevel opgeskort. AfriForum se artikel 18(3) aansoek beoog nou om die heffing weer ongedaan te maak totdat die appèl proses afgehandel is en sodoende help om die inwoners van die Tshwane-metro finaal en al van dié dubbele belasting te bevry.

Administratiewe nagmerrie:

In ’n verklaring aan die media het die metro vroeër erken dat die heffing “verkeerd gehef” is, en het die fout op ’n tegniese ongerymdheid blameer. Tog het die metro geweier om die onregmatige bedrae outomaties terug te betaal en verwag nou dat deeltitelbesture self dispute teen die heffing moet lê en bewysdokumente moet in dien (wat bewys dat hul privaat afvalverwyderingsdienste oor geldige vervoerpermitte beskik) – voordat die heffing van hul rekeninge verwyder kan word. 

Alhoewel AfriForum inwoners aanmoedig om aan die versoeke gehoor te gee, spreek die organisasie ook hul kommer uit oor die metro se verbloeming van hulle eie administratiewe onvermoë.  Die kommer word ook versterk deur die feit dat diegene wat dispute verklaar en aan die metro se aangewysde e-pos adresse stuur,  ’n outomatiese antwoord ontvang wat aandui dat die metro se e-posbus “vol” is en gevolglik nie die boodskap kan ontvang nie.

“Privaatdiensverskaffers  moet oor die nodige permitte beskik en behoort dit op aanvraag te kan verskaf. Wat egter totaal onaanvaarbaar is, is dat die metro hierdie sogenaamde nakomingsprosesse gebruik as rookskerm vir sy eie onbevoegdheid en wanbestuur. Die krisis was nie deur inwoners of diensverskaffers geskep nie, maar deur ’n metro wat nie sy eie stelsels kan bestuur, rekeninge korrek kan hef of sy begroting kan balanseer nie. In plaas daarvan om sy eie huis in orde te kry, skuif die metro nou weer die administratiewe nagmerrie en finansiële las oor na belastingbetalers,” sê Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid

“AfriForum hou voet by stuk en meen dat die heffing tot in die hoogste hof beveg sal word. Ons moedig egter inwoners aan om in die tussentyd vol te hou om dispute te verklaar teen die onregmatige heffing en meen dat oorvol e-posbusse die metro se probleem is en nie inwoners van hul reg om ’n dispuut te verklaar mag ontneem nie,” sê Deidré Steffens, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

AfriForum moedig inwoners van Pretoria aan om te help om hul gemeenskap teen magsmisbruik te beskerm deur ’n lid van AfriForum te word. Besoek gerus www.wordlid.co.za vir meer inligting. 

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Magsmisbruik