Kers, beurtkrag, kragonderbreking, Eskom, krag
|

AfriForum vra vir volhoubare oplossings ná langdurige kragonderbreking in Griekwastad

AfriForum versoek die Siyancuma Plaaslike Munisipaliteit om volhoubare oplossings te implementeer nadat gereelde kragonderbrekings Griekwastad al vir bykans ’n maand lamlê. Teen Maandag 17 Februarie was sekere dele van die dorp steeds in donkerte gehul. Buiten dat inwoners lukraak sonder elektrisiteit moet klaarkom, het die onderbrekings ook watervoorsiening ontwrig.

In ’n brief wat op 5 Februarie aan die Siyancuma-munisipaliteit gestuur is, het AfriForum ’n gedetailleerde verduideliking van die hoofoorsaak van die onderbreking, ’n opsomming van regstellende aksies wat onderneem is, ’n beraamde tydlyn vir wanneer kragtoevoer herstel sal wees en ’n duidelike plan aangevra om soortgelyke langdurige kragonderbrekings in die toekoms te voorkom.

Die munisipaliteit het aanvanklik verduidelik dat ’n weerligstraal op 28 Januarie ’n transformator beskadig het en ondanks pogings om dit te herstel of te vervang, het uitdagings met aankope en vertragings in gespesialiseerde toetsing die onderbreking verleng. Alhoewel die munisipaliteit tans besig is om ’n nuwe transformator te installeer, dui gemeenskapslede aan dat areas soos Riemvasmaak steeds kragonderbrekings ervaar, wat beklemtoon dat dit nie ’n geïsoleerde voorval is nie. Griekwastad het voorheen soortgelyke onderbrekings ervaar, waaronder presies ’n jaar gelede in Februarie en verskeie ander ontwrigtings deur 2024 wat meer as 24 uur geduur het.

In ’n virtuele vergadering met munisipale verteenwoordigers op 12 Februarie, het die munisipaliteit sy langtermynstrategie uiteengesit om hierdie herhalende kwessies op te los. Die voorgestelde maatreëls sluit onder meer in die installering van doeltreffende sonkragstrukture sodat waterpompe onafhanklik van die netwerk werk; asook die aankope van ’n hoër-kapasiteit kragopwekker en opgeknapte transformator.

AfriForum bly daartoe verbind om te verseker dat gemeenskappe toegang tot betroubare en ononderbroke kragvoorsiening het, en doen ’n beroep op die Siyancuma-munisipaliteit om hierdie maatreëls proaktief te implementeer en in volhoubare verbeterings op infrastruktuur te belê.

Soortgelyke plasings