Bulldozer, mynbou
|

AfriForum vra departement en Sanparke om standpunt in te neem oor gebrekkige mynaansoek by Krugerwildtuin

Klankgreep: Lambert de Klerk (Afrikaans)

Klankgreep: Lambert de Klerk (Engels)

AfriForum het ernstige kommer uitgespreek oor die gebrekkige omgewingsimpakstudie wat verband hou met Tenbosch Mining se voorgestelde steenkoolmyn naby die suide van die Krugerwildtuin. In ’n brief, wat op 15 April aan die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing en Sanparke gestuur is, waarsku AfriForum dat indien hierdie aansoek – deurspek met prosedurele en wetlike onreëlmatighede – toegelaat word om voort te gaan, dit ’n gevaarlike presedent vir soortgelyke mynbouvoorstelle in sensitiewe ekologiese gebiede kan skep.

AfriForum, ’n geregistreerde belanghebbende en geaffekteerde party in die saak, het verskeie oortredings in die omgewingsimpakstudie geïdentifiseer wat Kimopax, die aangestelde omgewingskonsultante, bestuur. Dit sluit in die uitsluiting van belanghebbende en geaffekteerde partye van kritieke kommunikasie, swak openbare konsultasie en onvoldoende inagneming van die projek se omgewingsrisiko’s.

“Die uitsluiting van sleutelbelanghebbendes, insluitend AfriForum, van kritieke kommunikasie is in direkte stryd met vereistes vir openbare deelname kragtens die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur en beginsels van prosedurele billikheid soos uiteengesit in die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake.

In die brief het AfriForum ’n beroep op die Departement en Sanparke gedoen om ’n amptelike openbare verklaring uit te reik wat hul standpunt oor die mynaansoek uiteensit; ’n formele ondersoek van stapel te stuur na die prosedurele mislukkings wat in die omgewingsimpakstudie geïdentifiseer is; en verduidelik hoe hulle beplan om te verhoed dat toekomstige mynaansoeke behoorlike omgewingsbestuur in beskermde gebiede omseil.

Terwyl AfriForum nie gekant is teen verantwoordelike mynbou nie, dring die organisasie daarop aan dat alle wetlike en omgewingsprosesse gevolg moet word. AfriForum het ook sy bereidwilligheid aangedui om ander remedies na te streef sou hierdie gebrekkige aansoek goedgekeur word.

“Die integriteit van Suid-Afrika se omgewingswetgewing is op die spel. As gebrekkige en onvolledige omgewingsimpakstudies aanvaar word, stuur dit ’n boodskap dat omgewingsvoldoening onderhandelbaar is. Dit kan nie toegelaat word nie,” sluit De Klerk af.

AfriForum het versoek dat die departement teen 5 Mei op die brief reageer, asook ’n  vergadering met relevante amptenare aangevra om die saak verder te bespreek.

Soortgelyke plasings