AfriForum verwelkom arrestasie van polisieman verbind met diefstal van sowat R450 000 se vee in Mpumalanga
Dit blyk asof die spreekwoordelike wolf in hierdie geval toe al die pad die skaapwagter was nadat ’n 34-jarige lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se veediefstaleenheid op Standerton Vrydag (29 Augustus) op aanklag van die diefstal van nagenoeg ’n halfmiljoen rand se beeste in hegtenis geneem is. AfriForum verwelkom dié arrestasie, maar benadruk dat die betrokkenheid van ’n lid van die veediefstaleenheid by hierdie tipe misdaad die publiek se vertroue in die polisie en dié eenhede ’n ernstige knou toedien.
Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld en samesteller van ’n AfriForum-kursus oor die bekamping van veediefstal, word die verdagte verbind met veediefstal wat sedert minstens Maart vanjaar in die Standerton-Greylingstad-Perdekop-gebied gepleeg is. “Die beweerde betrokkenheid van die polisielid by veediefstal is kommerwekkend aangesien die einste lid veediefstal in die gebied moes ondersoek, maar skynbaar sy posisie misbruik het om inligting te bekom om homself in die proses te verryk,” verduidelik Bekker.
Die omvang van die diefstal van beeste is boonop rede tot kommer. Luidens die SAPD se statistiek is daar in die afgelope finansiële jaar landwyd meer as 53 600 beeste gesteel. Dié misdaad plaas boere, volgens Bekker, onder ernstige druk aangesien hulle gedwing word om bykomende uitgawes aan te gaan om hul vee te beskerm. Die aanstelling van privaat sekuriteit en die installering van sekuriteitskameras is enkele maniere waarop boere die beskerming van hul boerdery probeer bewerkstellig.
Bekker benadruk dat die stryd teen veediefstal egter nie verlore is nie. “Ons is dankbaar vir elke polisielid wat volhard in die taak om misdaad – en in hierdie geval veediefstal – te bekamp. Samewerking tussen die SAPD en burgerlike inisiatiewe, soos AfriForum se plaas- en buurtwagte, is noodsaaklik in die stryd teen misdaad en ons sal nie oorgee nie,” sluit Bekker af.
Die verdagte verskyn na verwagting reeds vandag in die plaaslike hof.