|

AfriForum versorg oorlogsveterane se grafte in Kimberley se Weseinde-begraafplaas

Die AfriForum-tak in Kimberley het op 29 September ’n groot skoonmaakprojek by die Westeinde-begraafplaas aangepak waartydens daar op die grafte van oorlogsveterane gefokus is. Hierdie projek is deel van AfriForum se deurlopende veldtog om die erfenis van ons land te beskerm en om die toenemende verval van begraafplase in Suid-Afrika die hoof te bied.

Volgens plaaslike inwoners het die Westeinde-begraafplaas oor die jare drasties agteruitgegaan. Oorgroeide gras, vullis wat rondgestrooi word en vervalle infrastruktuur het nie net ’n gevaar vir besoekers geskep nie, maar ook die waardigheid van diegene wat daar begrawe is, aangetas. Verskeie gemeenskapslede het ook bekommernis uitgespreek oor hul veiligheid wanneer hulle die begraafplaas besoek, aangesien die terrein min sekuriteit en swak sigbaarheid bied.

Die tak se lede, in samewerking met die buurtspan, het die grafte skoongemaak, gras gesny, paadjies oopgesny en vullis verwyder. AfriForum beklemtoon dat hierdie skoonmaakprojek deel is van ’n groter veldtog wat ook ander begraafplase in die streek in die toekoms sal insluit.

“Begraafplase is plekke van herinnering, respek en geskiedenis. As gemeenskap kan ons nie toelaat dat die grafte van ons oorlogsveterane, wat soveel opofferings gemaak het, verval en in die vergetelheid verdwyn nie. Hierdie projek is nie net ’n daad van instandhouding nie, maar ook ’n daad van erfenisbeskerming en waardigheid,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.

Intussen doen AfriForum ’n beroep op die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit om sy verantwoordelikheid ernstig op te neem deur voldoende hulpbronne te belê in die instandhouding van begraafplase. Daarbenewens versoek die organisasie dat veiligheidsmaatreëls by hierdie terreine verbeter word, aangesien gemeenskapslede gereeld blootgestel word aan misdaad wanneer hulle hul geliefdes se grafte besoek.

“Ons het respek vir die oorledenes én vir die lewendes wat na hul geliefdes se grafte toe kom. Daarom sal AfriForum aanhou druk toepas dat begraafplase landwyd nie langer as ’n simbool van verval staan nie, maar weer as plekke van vrede en waardigheid herstel word,” sluit Strauss af.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf