|

AfriForum-verslag lê gevare van Nasionale Gesondheidsversekering bloot

Die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) sal die ongelykheidsgaping verder vergroot, nóg meer druk op die reeds oorbelaste belastingbetaler plaas en lei tot ’n uitvloei van mediese kundigheid sou dit implementeer word. AfriForum het hierdie en ander gevolge van die NGV in ’n nuwe navorsingsverslag uiteengesit.

Die organisasie beskryf in dié verslag onder meer die ideologiese grondslag van die NGV, die plek wat dit beklee in die ANC se Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR) , die ekonomiese gevolge van die sentralisering van gesondheidsfinansiering en die vaaghede in die wetsontwerp self. Verder bied die verslag ’n oorsig van gesentraliseerde gesondheidstelsels in ’n aantal ander lande en hoe dit vergelyk of kontrasteer met die ekonomiese en beleidsomgewing in Suid-Afrika.

Een van die grootste kwessies met die NGV-wetsontwerp is die finansiering daarvan. Luidens die verslag word daar tans vier moontlike bronne van inkomste ondersoek wat ’n negatiewe impak op belastingbetalers sal hê – waaronder betaalstrokiebelasting. Hierdie opsie behels dat die regering van werkgewers gaan vereis om ’n gedeelte van hul werknemers se salarisse te verhaal wat dan aan die regering oorgedra sal word – dít bo-op die aftrekkings wat reeds van werknemers se salarisse verhaal word. Suid-Afrika se marginale inkomstebelasting is reeds hoër as die van meeste ander lande soos Kanada, die VSA en Namibië. Hoewel dit dieselfde is as Australië, Switserland en Suid-Korea se marginale inkomstebelasting het Suid-Afrika byna niks ten opsigte van dienslewering om hiervoor te wys nie.

Die navorsing bevind in feitlik al die ondersoekareas dat NGV skadelik vir die ekonomie en negatief vir die meeste Suid-Afrikaners se welstand sal wees en kom tot die gevolgtrekking dat die wetsontwerp deur die parlement verwerp en deur die gesondheidsektor teengestaan moet word.

Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, verskyn hierdie verslag in ’n kritieke tydgleuf waar die parlementêre stryd oor die NGV-wetsontwerp voortwoed en baie wanopvattings daaroor die ronde doen. “NGV word maklik verkeerd opgesom met slagspreuke soos ‘gratis gesondheidsorg vir almal’, maar die verslag gee ’n tree terug om ’n meer nugter en objektiewe beeld te verkry, naamlik dat die beleid duur, ongemotiveerd en onwerkbaar is,” sê Boshoff.

Die volledige verslag is beskikbaar by www.jougesondheid.co.za, waar die nuutste inligting oor NGV geplaas word.


Soortgelyke plasings