AfriForum veroordeel ten sterkste Mbalula se rassistiese uitbarsting teenoor wit Suid-Afrikaners
Die burgerregteorganisasie AfriForum veroordeel Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, se rassistiese uitbarsting teenoor wit Suid-Afrikaners gister ten sterkste. Mbalula het in ’n mediakonferensie wat gister by Luthuli-huis in Johannesburg gehou is oor die uitkomste van die ANC se afgelope nasionale uitvoerende komiteevergadering, uitgevaar teen wit Suid-Afrikaners en Afrikaner-vlugtelinge na die VSA. Hy het hiertydens die wit vlugtelinge na die VSA vir “karwagte” en moordenaars uitgekryt. AfriForum bestempel dié uitbarsting as onaanvaarbaar en beskou Mbalula se stereotipering van wit Suid-Afrikaners as bloeddorstige moordenaars wat mekaar en swart Suid-Afrikaners teiken, as blatante rassisme.
Mbalula het in dieselfde toespraak die ANC se toewyding tot diskriminerende raswette – wette wat selfs teen kinders diskrimineer soos bewys in die Bidvest-sage – herbevestig. Hy het voorts ook die VSA uitgedaag om sanksies teen ANC-leiers in te stel vir hul verdediging van die land se raswette.
Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, het Mbalula, benewens sy rassistiese uitlatings, ook petrol op die vuur van die diplomatieke krisis tussen die VSA en die Suid-Afrikaanse regering gegooi deur die Amerikaanse regering as “imperialiste” te brandmerk. Mbalula het sy uittartende benadering voortgesit en Brent Bozell, die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, aangeval en bestempel as ’n “regse” voorstander van die verbanning van die ANC as ’n terroristeorganisasie gedurende die Struggle.
“Mbalula se rassistiese uitbarsting teen wit Suid-Afrikaners lê die haat bloot wat hy en baie van sy ANC-kamerade duidelik vir die wit burgers van Suid-Afrika het. Dit is skandelik om slagoffers van sy regering se diskriminasie te blameer vir die ANC se diplomatieke en plaaslike mislukkings,” sluit Van Zyl af.