|

AfriForum verfraai en beveilig Chrissiesmeer met skoonmaakprojek

AfriForum se Ermelo- en Chrissiesmeer-tak het in April weereens gewoeker om Chrissiesmeer tot sy volle glorie te herstel én terselfdertyd inwoners veilig te hou van boewe wat in bosse skuil.

Dié tak het eers bosse op Campbellstraat en die hoek van Bothwell- en Percystraat verwyder wat ’n veiligheidsrisiko vir die omliggende eiendomme ingehou het. Daar is al verskeie kere opgemerk dat vermeende inbrekers dié bosse as skuilplek gebruik.

Verder het die tak ook die gras agter Laerskool Chrissiesmeer se koshuis skoongesny. Die area is nie net ’n brandgevaar nie, maar die hoë gras en bosse maak dit ook maklik vir kriminele elemente om in weg te kruip. Die AfriForum-tak het reeds omhulsels in die veld gevind wat om kragkabels gebruik word.

Die tak het ook sy weeklikse vullisverwydering voortgesit deur altesaam 19 sakke vullis uit die vullisdromme te verwyder wat AfriForum verlede jaar op strategiese punte op die dorp geplaas het. Vanjaar is altesaam 128 sakke reeds uit die dromme verwyder. Hierdie rommel sou, indien die projek nie van stapel gestuur was nie, waarskynlik op die dorp rondgelê het.

“AfriForum se Ermelo- en Chrissiesmeer-tak neem eienaarskap van hierdie omgewing en vat die dorp straat vir straat terug. Inwoners is moeg daarvoor om aan kriminele oorgelewer te word en te sien hoe die eens mooie dorp agteruitgaan,” sê Millicent van den Heever, leier van AfriForum se Chrissiesmeer-buurtwag.

Raak vandag nóg by AfriForum se Ermelo- en Chrissiesmeer-tak betrokke. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings