|

AfriForum vat hande met vennote om Benoni te verbeter

AfriForum se Benoni-tak het die afgelope maand twee projekte aangepak as deel van die burgerregteorganisasie se Herstel en Versnel-projek om padveiligheid en netheid in dié Johannesburgse voorstad aan die Oos-Rand te bevorder. Hierdie projekte is in samewerking met verskeie plaaslike vennote aangepak en dien as ’n bewys van wat bereik kan word deur ’n gemeenskap wat saamwerk.

Op 18 Mei het AfriForum se Benoni-tak onkruiddoder op Voortrekkerweg gespuit, asook op Atlasweg, Mercury- en Finchstraat, met die doel om bossies wat op die padoppervlak en aan sypaadjies groei, effektief te verwyder. Die afwesigheid van onkruid dra veral by tot ’n veiliger en meer sigbare pad vir voetgangers en fietsryers.

Tien dae nadat die onkruid op hierdie pad verwyder is, het die Benoni-tak begin om slaggate in die gebied te herstel. In samewerking met The Murphy Cat Project, D.O.T Towing and Recovery, PRS Angels en PD Nixon Containers is altesaam 25 gevaarlike slaggate opgevul.

Dié gemeenskapsorganisasies het altesaam 17 slaggate aan die hoek van Mowbraylaan en Russelstraat met 50 sakke teer opgevul, wat deur The Murphy Cat Project geskenk is. ’n Verdere agt slaggate is aan die hoek van Vyfdelaan en Great Northweg herstel. AfriForum se Benoni-tak het self die 20 sakke teer aangekoop wat nodig was om die herstelwerk te doen.

Altesaam 1 750 kg, oftewel 70 sakke teer is gebruik om die slaggate te herstel. Danksy PD Nixon Containers, wat ’n kompakteerder gratis beskikbaar gestel het, kon die herstelwerk vinnig en doeltreffend afgehandel word.

“AfriForum is trots daarop om saam met toegewyde gemeenskapsorganisasies te werk om die toestand van Benoni se paaie te verbeter en vir al sy inwoners veiliger te maak,” sê Archie Mouyis, voorsitter van AfriForum se Benoni-tak. “Hierdie projekte wys wat moontlik is wanneer gemeenskappe hande vat.”

Die burgerregteorganisasie bly daartoe verbind om gemeenskapsprojekte te ondersteun en broodnodige dienste te lewer wat Benoni opbou en versterk. Hoewel die plaaslike munisipaliteit versuim om sy pligte teenoor die gemeenskap na te kom, beywer AfriForum om dié gaping in dienslewering te vul. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting oor hoe om die Benoni-tak se projekte te ondersteun of kontak die tak direk by 084 976 1234.

Soortgelyke plasings