AfriForum Traumaeenheid: ’n Anker vir plaasaanvalslagoffers
Die skoknuus van ’n plaasaanval haal dikwels die hoofopskrifte, maar in die week of twee ná die voorval verskuif lesers se belangstelling na die volgende opspraakwekkende nuusgebeurtenis en raak slagoffers dikwels vergete. Dit is egter in die dae, weke, maande en selfs jare ná ’n plaasaanval waartydens slagoffers en hul naasbestaandes verder worstel om te genees van die fisieke en emosionele wonde wat dié traumatiese gebeure agterlaat. Dit is in dié tyd wat AfriForum se traumaeenheid, wat reeds in 2016 op die been gebring is, met kundigheid en empatie die anker van plaasaanvalslagoffers en ander slagoffers van geweldsmisdaad word.
Wat doen die traumaeenheid?
Volgens Wilna Theron, bestuurder en senior traumaberader van AfriForum se traumaeenheid, bied die eenheid uiteenlopende steun aan slagoffers direk ná ’n misdaad en in die tyd wat daarop volg. “Die eenheid bied berading aan slagoffers van plaasmoorde, plaasaanvalle en geweldsmisdaad, sowel as ontlonting aan AfriForum-buurtwaglede. Daarbenewens bied die eenheid ook emosionele ondersteuning in die hof en fisieke en emosionele bystand op die toneel vir slagoffers,” verduidelik sy.

Die ander personeel van die eenheid is Hester-Louise Henderson (berader), Magda Coetzee (traumaondersteuner) en Izel Kruger (kantoorkoördineerder). Hierdie personeel reis oor die land heen om slagoffers by te staan waar en wanneer die behoefte is. Die eenheid se dienste is gratis.
Die traumaeenheid beskik oor ’n slagofferondersteuningsfonds wat befonds word deur donasies en fondsinsamelingsprojekte soos die jaarlikse Hardloop vir Hoop-wedloop. Deur middel van dié fondse word daar na slagoffers se dringendste behoeftes, soos die aankoop van kruideniersware en die dekking van mediese uitgawes, omgesien.



Hoe lyk trauma?
Die AfriForum-traumaeenheid se taak is om hulp te verleen aan diegene wat trauma opgedoen het weens misdaad. Dit is egter noodsaaklik om die letsels wat trauma laat, uit te ken en indien nodig geliefdes by te staan of te verwys na kundiges wat die behandeling van dié trauma professioneel kan hanteer.
Theron benadruk dat daar uiteenlopende tekens is wat daarop wys dat iemand dalk aan trauma ly. Fisieke tekens sluit onder meer in slaapprobleme, aanhoudende moegheid, liggaamspyn, hartkloppings, nagmerries of herlewing van die traumatiese gebeure en ’n verandering in eetlus. ’n Persoon wat aan trauma ly, mag dalk ook verandering in hul gedrag toon. Selfvernietigende gedrag wat die misbruik van middels of roekelose optrede kan insluit, kom soms voor. Verandering in gedragspatrone kan ook voorkom en is dikwels sigbaar in onder meer die vermyding van mense of sekere plekke, ’n toename in argumente, uitdagings met konsentrasie of huilbuie.
Trauma raak nie net vergete nie.
Trauma wat nie behandel word nie, hou boonop volgens Theron ernstige risiko’s in. “Trauma raak nie net vergete nie, dit bou op. Sodoende kan die simptome vererger. Iemand kan byvoorbeeld chroniese depressie, angs of paniekaanvalle ontwikkel wat tot probleme met daaglikse funksionering kan lei. Persoonlike verhoudings kan in die proses skipbreuk ly, werksvermoë kan afneem en die persoon kan geïsoleer voel omdat hulle voel asof niemand hulle verstaan nie,” sê sy.
Die goeie nuus is dat iemand wat aan trauma ly, op verskeie plekke vir hulp kan aanklop. Behalwe maatskaplike werkers, psigiaters, beraders en sielkundiges het verskeie hospitale en SAPD-kantore ook eenhede wat met trauma kan help.
Wat kan ek doen?
Familie en vriende speel ook ’n groot rol om persone wat aan trauma ly, te help. Sekere van die “moets” is om te luister sonder om te oordeel, beskikbaarheid en om kalm en geduldig te bly. Die “moenies” sluit onder meer in om nie die trauma as gering af te maak nie, om nie druk op die persoon te plaas, om te praat nie en om nie hul reaksie te korrigeer nie.
Die hoofredes vir trauma in Suid-Afrika is nou gekoppel aan die hoë vlakke van misdaad en geweld in die land, maar word ook verbind met ongelykhede en ekonomiese redes. Armoede en die groot gaping tussen die welvarende en arm mense in die land speel ook ’n groot rol in die trauma wat baie mense ondervind.
Selfs as dinge baie sleg lyk sê Theron daar is altyd hoop.
Die woorde van Viktor Frankl wat die Holocaust oorleef het, is iets waaraan traumaslagoffers kan vashou sê sy. “Everything can be taken from a man, but one thing: the last of the human freedoms – to choose one’s attitude in any given set of circumstances, to choose one’s own way.”