AfriForum toets Musina se water vir moontlike besoedeling
Klankgreep: Marais de Vaal
AfriForum het vyf watermonsters vanaf strategiese punte in en om Musina geneem ná gerugte van ernstige besoedeling én sigbare verkleuring van die Limpoporivier. Die monsters is na ’n laboratorium onderweg om vas te stel of die water – veral die dorp se munisipale drinkwater – ’n gesondheidsrisiko vir plaaslike gemeenskappe inhou.
“Hierdie voorval is nóg ’n simptoom van die breër omgewingskrisis in Suid-Afrika,” sê Marais de Vaal, AfriForum se adviseur vir Omgewingsake. “Al is die oorsaak van die blougroen kleur van die rivier nog onbekend, behoort die moontlikheid van besoedeling nie eens te bestaan as die bestuursmaatreëls wat veronderstel is om in plek te wees, behoorlik toegepas is nie. Dit is ’n skande dat inwoners eers alarm moet maak oor moontlike besoedeling voordat owerhede reageer, in plaas daarvan om die nodige stappe te doen om dit van meet af aan te voorkom.”
AfriForum sal die toetsuitslae bekend maak sodra dit beskikbaar is en verdere stappe oorweeg op grond van die bevindings.